Hillcrest Primêr verwelkom ’n Wellingtonner as sy nuwe skoolhoof.
Julius Williams, wat voorheen vir nege jaar die skoolhoof van Pauw Gedenk Primêre Skool was, is van die tweede skoolkwartaal af aangestel as die nuwe leier van Hillcrest Primêr. Hy het die leisels by Terence De Jongh, wat ná 43 jaar uit die onderwys getree het, oorgeneem.
Williams is ’n onderwysman in murg en been en dien die professie die afgelope 30 jaar met passie en oorgawe. “Ek is verskriklik opgewonde om in ’n skoolgemeenskap waar ek woon, te kan dien. Ek beskou dit as ’n groot eer en voorreg om ’n skool- en breër gemeenskap wie se omstandighede en behoeftes jy verstaan en waarmee jy kan vereenselwig, te dien,” vertel hy.
Sy groot wens is dat sy personeel sal voortbou op die opvoedkundige nalatenskap wat reeds deur sy voorgangers daargestel is.
Williams deel sy visie: “Ek dink onwillekeurig aan baanbrekers soos mnre. S. Pietersen en J.C. Adams wat in die tydperk (1989-2009) diep spore in die onderwys getrap het. Wanneer ons as al die rolspelers (opvoeders, ouers, nie-doserende en breër gemeenskap) hande vat, kan ons die skool na ’n vlak van uitnemendheid neem.”
Volgens Williams besef hy dat die taak baie uitdagend is en sal wees met al sy fasette om van leer en onderrig ’n sukses te maak.
“Gehalte-onderrig en -leer kan slegs tot sy reg kom wanneer opvoeding in ’n gedissiplineerde atmosfeer en omgewing geskied. Daarom is dit van kritieke belang dat ouers nou betrokke sal wees by die opvoeding van hul kinders,” vertel Williams.
Hierdie aspek van dissipline is egter een van die grootste uitdagings waarmee onderwysers op ’n daaglikse grondslag te kampe het.
Volgens Williams het skooldissipline in die meeste wêrelddele ’n brandpunt geword, maar binne almal se verskillende diverse kulture en samelewings moet elkeen beheer neem oor die veranderlikes en nie moed opgee nie.
Williams vertel voorts: “Daarom predik ek ’n oopdeurbeleid waar ouers welkom is om enige tyd in te loer en sodoende hul ouerbetrokkenheid uit te leef. Ek en die personeel verbind ons tot die lewering van gehalte-onderrig en -leer. Verder sal ons ook die waardegedrewe beleidsbeginsels van die Wes-Kaapse onderwysdepartement uitleef sodat die mantra van “Enter to learn and leave to serve” vergestalt sal word in ons roeping.”
Hillcrest Primêr skakel tans in die Wes-Kaapse onderwysdepartement na ’n hoër rat van dienslewering oor waar die waardefokus op transformeer om te presteer val.
Alles is daarop gemik om die ingesteldheid van onderwysers en leerders te beïnvloed sodat dit sal lei tot verbeterde onderwyser- en leerderprestasie.
“Ek stel my vertroue volkome in ’n gefokusde, geïnspireerde en doelgerigte personeel wat as ’n eenheid saamwerk om ons doelwitte te bereik. Ons wil ook ’n ernstige pleidooi tot sakeondernemings, sakelui, entrepreneurs en individue rig om by ons skool in te koop en ’n verskil aan ons infrastruktuur te kom maak.”
Kinders moet gedurige blootstelling en stimulasie ten opsigte van die nuutste tegnologiese tendense ervaar en beleef. Dit is deesdae een van Hillcrest se grys gebiede en enigiemand wat ’n tegnologiese verskil in die skool wil maak, sal verwelkom word.
“Ons kinders is ons toekoms. Kom ons wend alle pogings binne ons vermoë aan om ’n hoëgehalte- post millennium-generasie daar te stel waarop ons as gemeenskap van Wellington trots kan wees,” sluit Williams af.