Chris en sy ma, Celeste Truter.Foto: Liezl Davids


Toe die Truter-gesin in die verlede saam gaan fietsry het, moes hul een seun saam met sy pa op ’n tandemfiets ry. Vandag ry hy sy eie fiets en sommer onder sy ma uit.

Dit is nou ’n bietjie meer as ’n jaar en vyf maande nadat Chris Truter (13), ’n graad 7-leerder aan die Hugenote Laerskool, ’n suksesvolle hartoorplanting ondergaan het nadat hy vir sowat vyf maande op die waglys vir orgaanoorplantings was.

Toe sy ma, Celeste Truter, net 12 weke swanger was met hom en sy tweelingboetie, Basson, het dokters agtergekom hy het ’n hartafwyking wat hipoplastiese linkerhartsindroom genoem word.

Ná verskeie operasies vandat hy ’n baba was, het die gesin in Augustus 2017 verneem dat hul seun ’n hartoorplanting nodig het nadat hy hartversaking opgedoen het.

Celeste vertel hulle kon in daardie tyd niks vooruit beplan nie, want hulle moes te alle tye twee uur van die hospitaal af wees vir ingeval die hospitaal laat weet dat hulle ’n skenkerhart vir Chris het. “Nou kan ons beplan as ons iets wil doen. Ons kan besluit as ons ’n naweek wil weggaan.”

Chris was tydens die hartoorplanting byna 14 uur lank in die teater.

Chris praat nie veel tydens Paarl Post se besoek nie, maar luister aandagtig na wat sy ma vertel; help haar reg as sy dalk ’n datum verkeerd onthou. “Hy hou nie daarvan die aandag moet op hom wees nie,” verduidelik sy ma.

Sy sê die isolasie waarin Chris lank in die hospitaal gehou is, was moeilik vir hom en vir hulle. “Dit was soos ’n tronk,” sê Chris.

Hy het vanjaar vir die eerste keer ’n volle rugbywedstryd as haker gespeel. Voor sy hartoorplanting het hy baie vinnig moeg geraak en nie sport beoefen nie. “Chris inspireer mense sonder dat hy dit weet,” sê Celeste. “Hy leer ons elke dag dat ons nuwe dinge moet aanpak.”

Sy ma vertel sy tweelingboetie het saam met hulle deur die moeilike tyd gegaan en dat hy te midde van alles altyd ’n goeie kind was. Voor die oorplanting kon Chris en Basson nie met mekaar stoei nie, maar dinge is nou anders. “Hulle twee kan nou soos boeties stoei en al is Basson baie groter as Chris, gee Chris hom ’n goeie go!”

Chris is baie lief vir klein kinders, motors, die natuur en die Namibiese woestyn. Oor wat hy eendag wil word, besluit die jongman nog.

“Chris het ’n groot hart vir diensbaarheid,” sê Celeste. Sy vertel al kon hy nie rugbywedstryde speel nie, was hy daar om die span te ondersteun, die afrigter te help of met enigiets anders hulp aan te bied.

Met Chris se ontslag uit die hospitaal verlede jaar het sy medeleerders vir hom ’n erewag gevorm.

Celeste vertel die leerders en die skool onderskraag hulle geweldig goed. Chris kon vir maande ná die operasie nie terugkeer skool toe nie omdat dokters bang was hy word siek. Dit het Chris nie gestuit nie en hy het sy skoolwerk by die huis gedoen. Hy het die laaste paar weke van die derde kwartaal weer skool toe gegaan en sien nou, saam met sy boetie, daarna uit om volgende jaar hoërskool toe te gaan.

Die Truters is met die skenker se familie in verbinding. Celeste sê nuus oor Chris se vordering en wat hy alles kan doen, is ’n effense troos vir hierdie familie ná hul verlies.

Vir ander kinders wat wag vir ’n orgaanoorplanting sê Chris die volgende: “Just be strong.” “Ons wil baie graag vir God al die eer gee,” sê Celeste. “Niks sou moontlik gewees het as daar nie ’n groter God was nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.