Ná byna 10 jaar uit druk is dit uiteindelik op oorweldigende aanvraag terug: die Harry Potter-reeks in Afrikaans.
Sedert die eerste Harry Potter–boek in 2000 in Afrikaans verskyn het, is meer as 110 000 eksemplare van die reeks in Afrikaans verkoop.
Boek 1 tot 5 is destyds deur Janie Oosthuysen vertaal, terwyl Boek 6 en 7 deur Kobus Geldenhuys vertaal is.
Die boeke is egter sedert 2013 uit druk.
NB Uitgewers het die afgelope paar jaar al hoe meer navrae ontvang van lesers, boekwinkels en biblioteke wat die reeks in Afrikaans wil hê.
“Ons kan nie wag vir die jongste Afrikaanse weergawes van J.K Rowling se topverkoper-reeks nie. Dit sal vir seker ook boaan ons geskenklys vir maatjies wees,” sê Nelleke de Jager, fiksie-uitgewer.
“Daar’s ’n hele nuwe geslag boekwurms op wie ure en ure se leesplesier wag.”
Die eerste Harry Potter-boek, Harry Potter and the Philosopher’s Stone, het sy 25ste bestaansjaar in 2022 gevier.
Duidelik was daar wêreldwyd nuwe belangstelling by jong lesers om die boeke te lees. In Suid-Afrika het boekwinkels toenemend navrae gekry van klante wat graag die reeks in Afrikaans wil koop.
“Dis die beste nuus in jare dat julle weer die Harry Potter-reeks in Afrikaans gaan uitgee,” sê ’n opgewonde leser, Willemien Brümmer.
“Ek en my seuntjie, Matthias (8), het letterlik jare daaraan bestee om die volledige reeks in Afrikaans te bekom.”
Hierdie twee meen dat “min ander boeke” nog by dié reeks kon kom.
NB Uitgewers het bekend gemaak dat al sewe boeke in die reeks weer in 2024 in Afrikaans verkrygbaar sal wees.
’n Deel van die hernude ooreenkoms met J.K Rowling se agent in die Verenigde Koninkryk is die gebruik van die nuutste omslagontwerpe deur Jonny Duddle. Hierdie nuwe uitgawes met hul splinternuwe baadjies gaan gewis die koppe laat draai.
Kobus Geldenhuys verwys na die Afrikaanse publikasies as “ ’n groot voorreg en vreugde”.
Geldenhuys sê hy is “bly jong lesers kan nou ná tien jaar in hierdie nuwe uitgawe weer by platform 9¾ op die trein klim om Hogwarts se towerwêreld te beleef”.
“Beide Janie en Kobus het destyds ongelooflike werk met hierdie komplekse en lywige vertalings gedoen,” sê Simone Hough, Human & Rousseau se uitgewer van kinder- en jeugboeke.
“Die verhale lees nét so lekker in Afrikaans as in Engels, sonder ’n enkele haakplek.
“Op ’n manier is dit selfs beter – want jy lees dit in jou huistaal en word totaal oorrompel deur hierdie magiese wêreld.
“Al werk wat ons nou aan die tekste doen, is om die vertalings liggies te hersien om name en titels oral konsekwent te maak. Dit word gedoen om aan te pas by hedendaagse tendense in die vertaalpraktyk, asook die feit dat hierdie handelsmerk en karakters sedertdien wêreldberoemd geword het.
“Dumbledore is byvoorbeeld nou in al sewe boeke Dumbledore, eerder as Dompledorius; Hermione is nou Hermione en nie Hermien nie; ensovoorts.
“Terwyl ek hieraan werk, word ek van voor af betower deur J.K. Rowling. Wat ’n voorreg om dit weer die lig te laat sien – en boonop in sulke mooi Afrikaans”.
Die eerste boek in die reeks, Harry Potter en die towenaar se steen, is sedert 19 April op die winkelrakke.
Daarna sal daar elke maand, tot Oktober 2024, ’n nuwe Harry Potter-boek op winkelrakke verskyn.
. Een Paarl Post-leser kan ’n eksemplaar van Harry Potter en die towenaar se steen wen. WhatsApp eenvoudig die naam van die skrywer van die Harry Potter-reeks na 066 484 3728 om ’n kans te staan om te wen.