Johan Opperman, wat baie jare saam met sy gesin in Brits in die Noordwes-provinsie gewoon het, het aan die begin van 2016 sak en pak na Wellington getrek om met ’n splinternuwe loopbaan te begin.
Binne vyf dae nadat Johan op 9 Julie amptelik met sy nuwe loopbaan op Wellington begin het, het hy onverwags gesterf.
“Ons as ’n gesin was plat teen die aarde,” het sy vrou Nellie die afgelope week gesê. “Ons het saam met Johan groot gedroom oor ons nuwe toekoms, maar binne ’n oogwink is die droom uitgewis.”
Johan se droom was om op ’n plattelandse dorp met ’n slaghuis te begin. Hy en sy jongste seun, Ulrich, het saam ’n kursus vir slaghuistegnici ter voorbereiding geloop en besluit om hul nuwe slaghuis op Wellington te kom oopmaak.
Die planne het fluks gevorder. In Februarie vanjaar het hulle ’n perseel in Hoofstraat in Wellington bekom. Hulle het die nodige vergunnings van die plaaslike owerheid ontvang, die perseel gereed gekry, met verskaffers begin onderhandel en op 9 Julie die nuwe slaghuis amptelik geopen.
Nellie sê hulle het baie hard gewerk om alles gereed te kry vir die amptelike opening van die slaghuis. Die opening was ’n tamaai sukses en Johan kon agterna nie uitgepraat raak oor hoe tevrede hy met die ontvangs was wat hul nuwe onderneming op Wellington te beurt geval het nie.
“Johan het egter kort na die openingsdag begin kla oor ’n seer keel en hy het simptome van erge griep begin toon. Hy is na ’n plaaslike geneesheer en die het hom vir toetse weggestuur. Die uitslag van die toetse het gemaak dat hy blitsvinnig hospitaal toe moes gaan want daar is bevind dat hy ernstige longontsteking onder lede het. Hy is ’n dag later, op 13 Julie, in die hospitaal oorlede.”
Volgens Nellie sal sy en haar seun met die nuwe slaghuis voortgaan. Net soos haar oorlede man is sy oortuig dat Wellington een van die wonderlikste plekke in die land is om in te woon.