’n Galery waar gemeenskapslede hul kunswerke en foto’s gratis kan vertoon, is by die Breytenbach-sentrum in Wellington geopen.

Dié galery, wat as die Cloete-gemeenskapsgalery bekend sal staan, is op die grondvloer in die veeldoe­lige lokaal waar daar ook gereeld kursusse, dansklasse, dagsorgop­leiding, werksessies, voorlesings, jogaklasse en ander aktiwiteite aangebied word.

Die Cloete-gemeenskapsgalery is genoem na Cloete Breytenbach, bekende oorlogsfotograaf van weleer. Verskeie boeke van sy foto’s het al verskyn en uitstallings is oor die wêreld gehou van foto’s van onder meer ook Distrik Ses.

Cloete (85), die broer van Jan, Rachel, Breyten en wyle Sebastiaan, was ’n stigterslid van die Breytenbach-sentrum in 2009 en tot kort voor sy dood 31 Mei verlede jaar ook ’n lid van die sentrum se raad van trustees. Sy dogter Anna Breytenbach verteenwoordig nou die Breytenbach-familie in die trusteeraad.

Cloete is ook die nooiensvan van die Breytenbachs se ma, Catharina (wat ook Kitty en Ounooi genoem is).

Die drie jongste Breytenbach-kinders, Rachel, Breyten en Sebastiaan, het saam met hul ma en pa Johannes (Hans) in die geboue, wat vandag die Breytenbach-sentrum en Die Bôrdienghuis-teater agter op die erf is, gewoon.

Francois Lötter, uitvoerende bestuurder van die Breytenbach-sentrum, sê enige opkomende kunstenaar uit die plaaslike gemeenskap sowel as van elders wat nie die geleentheid het om in ’n groot gevestigde galery uit te stal nie, kan in Die Cloete-gemeen­skapsgalery uitstal. Dit sluit ook fotokuns in – spesifiek oor die Wellington-omgewing. Bel gerus vir Jessica by 021 073 2786.

Daar hang nou ’n interessante uitstalling in die gemeenkapsgalery, of Die Cloete soos dit by die sentrum bekend staan. Dit is 27 werke deur besoekers en deelnemers aan verlede jaar se Tuin van Digters-fees. Hulle is met die fees genooi om die linkerkant van ’n kunswerk van Breyten Breytenbach, Gorée couple, te voltooi sonder dat hulle die hele kunswerk gesien het.

Die Breytenbach-sentrum is in Burgerstraat 14 in Wellington en is weeksdae van 09:00 tot 17:00 oop en op ’n Saterdag van 09:00 tot 13:00.

• Daar is Saterdag, 18 Januarie 11:00 ’n voorlesing van ’n keur van Breyten Breytenbach se gedigte deur die bekende akteur Chris van Niekerk in Die Bôrdienghuis. Hy huur en bestuur die teater van Desember.

Kaartjies kos R100 per persoon en pizzas, drinkgoed en tuisgemaakte roomys kan ook gekoop word. Bespreek by teater@breytenbachsentrum.co.za of 021 873 2786.

You need to be Logged In to leave a comment.