Stephen Korabie, die nuutverkose uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit. Foto: Rasaad Adams


Nie net wil hy Drakenstein ’n beleggersvriendelike munisipaliteit maak nie, maar Stephen Korabie, die nuutverkose uitvoerende burgemeester, wil ook toesien dat mense in minderbevoorregte gebiede dieselfde gehalte dienslewering as die res van die stad ontvang.

’n Gejubel en ’n gejuig onder raadslede het Vrydag (5 April) voor ’n volgepakte galery in die Wellington-stadsaal opgeklink toe Korabie as die munisipaliteit se nuwe eerste burger aangekondig is.

Korabie en Keagen Gertse, hoofsweep vir die GOOD-party in Drakenstein, is vir die pos van burgemeester benoem.

Uit die 63 raadslede het 36 vir Korabie gestem, terwyl Gertse 27 stemme ontvang het.

Die verkiesing van ’n nuwe burgemeester het gevolg nadat Conrad Poole op 28 Februarie in ’n wantrouemosie verwyder is.

Poole het toe etlike dae daarna ’n stoel in die Wes-Kaapse wetgewer gekry, en is nou ook op die DA se nasionale kandidatelys vir ’n stoel in die nasionale vergadering.

Agtergrond oor Korabie

Korabie is in Wellington gebore en het daar grootgeword.

Hy was in die Pauw Gedenk Primêre Skool en toe die Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington.

Korabie het ’n BA-graad en BA-honneursgraad in kriminologie, wat hy aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf het, sowel as ’n meestersgraad in openbare administrasie van die Universiteit van Pretoria. Hy het ook ervaring op die gebied van korrektiewe dienste en het van 1977 as korrektiewe beampte gewerk, waarna hy in 1999 as streekkommissaris in die Wes-Kaap aangestel is.

Hy dien sedert 2022 as ’n PR-raadslid vir die Drakenstein-munisipaliteit sowel as die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.

Met dié dat die aangeleentheid in Wellington plaasgevind het, was dit waarskynlik vir Korabie selfs meer spesiaal aangesien hy self ’n Wellingtonner is.

“Ek het saam met my skoolmaats in die skadu van hierdie majestueuse gebou gesit op pad huis toe – ná skool waar hy skadu verskaf het teen die skroeiende son. Ons het met haastige treë gestap om in sy skaduwee te gaan sit totdat dit koeler was om die reis huis toe voort te sit. En ek het altyd gewonder hoe lyk die gebou van binne – is hy ook so mooi as wat ek aan die buitekant kan sien?” het hy in sy openingstoespraak gevra.

’n Munisipaliteit ‘vir die mense van Drakenstein’

Korabie het gesê hoewel Drakenstein kan pronk met sy status as ’n munisipaliteit met skoon regeringspraktyke en gehaltedienslewering, moet heelwat onderwerpe nog aandag geniet.

“Ons moet ’n omgewing skep waarin alle burgers, sakeondernemings, boere en nie-regeringsorganisasies betrokke is by en deelneem aan die aktiwiteite van die munisipaliteit.

“Dit sal ’n munisipaliteit vir die mense van Drakenstein wees.

“Ons moet ’n omgewing skep waarin dit vir mense maklik sal wees om sake te doen deur ’n eenstop-stasie te skep wat dit vir kleinsakeondernemings maklik sal maak om ’n onderneming te begin en op so ’n wyse by te dra tot die ekonomie van die munisipaliteit.”

Veiligheid en plekke vir verbetering

Korabie het klem daarop gelê dat hoewel Drakenstein vanjaar as die beste sekondêre stad in Suid-Afrika aangewys is, is daar gebiede waarop hy graag wil verbeter.’

“Ons het gebiede waar mense in erge armoede en ongesonde omstandighede leef.

“Ons sal op daardie gebiede fokus en alle pogings aanwend om hul situasie ten goede te verander.

“Ons sal verseker dat ons ’n veilige omgewing vir ons inwoners skep deur elke geleentheid te gebruik om bendelede en misdaad in ons munisipaliteit aan te pak.”

Hy het hier bygevoeg dat die rol van sport in hierdie opsig nie onderskat moet word nie.

“Drakenstein was altyd baie betrokke by sport, maar namate belangstelling in sport afgeneem het, het voorvalle van misdaad en geweld – veral onder ons jeug – toegeneem.

“Ons moet sorg vir ons senior burgers, ons kinders en haweloses.

“Die vlak van ontwikkeling van enige samelewing word gemeet aan die manier waarop hy na diegene wat hulself die minste kan verdedig, kan omsien.”

’n Gesonde politieke omgewing

Korabie het na afloop van Vrydag se verrigtinge aan Paarl Post gesê hy sal toesien dat Drakenstein nie die slagoffer word van politieke onstabiliteit en wanadministrasie nie.

“Ek sal seker maak – en dis nou van my persoonlike kant af – dat kaderontplooiing nie sy kop hier uitsteek nie; dat swak bestuur nie sy kop hier uitsteek nie; dat staatskaping, nie sy kop hier uitsteek nie.

“Dit is my werk om toe te sien dat die Drakenstein-munisipaliteit korrek bestuur word, in die regte rigting bestuur word en dat dit volgens goeie regeringsbeginsels gedoen word.”

Hy het ook gesê hy sal toesien dat samewerking tussen die regerende party en opposisiepartye heers.

“Vir enige regering is dit belangrik om ’n gesonde verhouding met sy opposisie te handhaaf.

“Ek moet na hulle ook luister aangesien hulle hier is om die belange van hul kiesers (wat ook my inwoners is) te verteenwoordig.”

You need to be Logged In to leave a comment.