Die Wellington-besigheidswag (WB)-inisiatief strewe daarna om die sakekern van Wellington se wetstoepassingsprobleme aan te pak.Foto: Facebook


’n Splinternuwe gemeenskapsinisiatief het vroeg in Oktober die lewe geskenk aan Wellington-besigheidswag (WB), ’n eerste in die Drakenstein-vallei.

Christine Marais, ’n lid van die Wellington-belastingbetalersvereniging (WBV), sê die inisiatief is aan talle mense in die dorp te danke.

“Dit is ’n inisiatief van die WBV in samewerking met die Wellington-polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se Community in Blue, plaaslike ondernemings en Winelands Tactical Solutions,” het Marais verduidelik.

“Dié inisiatief strewe daarna om die sakekern van Wellington se wetstoepassingsprobleme die hoof te bied. Ons poog om met voetpatrollies te begin en moontlik uit te brei na waar ons ’n voertuig en ’n hond tot die ingeskrewe lede se beskikking kan stel.”

Die eienaar van Winelands Tactical Solutions, Iwan Koen, het aan Paarl Post gesê hy het dié flink idee na die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, geneem.

“Toe ek my onderneming begin het, het ek besef die dorp het ’n behoefte aan veiligheid in die middedorp, waar sommige owerhede nie (aan die vereistes) voldoen nie.

“Ek het dit goedgedink om met kol. Barkhuizen daaroor te gesels, en hy glo dit sal ’n groot aanwins vir die ondersteuning vir die plaaslike polisie wees.”

Die sakewag is met die steun van die WBV en die GPF in die lewe geroep.

Die lede van WB op patrollie is ook as Community in Blue-lede geregistreer, wat elke oggend by die polisie aanmeld vir ’n voorvalleboek-nommer, wat weekliks skriftelike terugvoer oor patrollies aan die GPF en polisie verskaf.

Koen sê sy wagte dien as die sakewag. Hul pligte behels om die strate te monitor vir tekens van mense wat in die openbaar drink of verdag optree, en fokus hoofsaaklik op sakeveiligheid.

“Ons wil ook so behulpsaam as moontlik vir die polisie wees, maar in samewerking met die WBV en die GPF.”

Marais sê die WB se bedrywighede hou die polisie op hoogte van waar probleme daagliks voorkom, watter soort probleme opgelos moet word en waar die WB van hulp kan wees.

Vir meer besonderhede oor lidmaatskap kan enige belangstellendes ’n e-pos-boodskap na wellingtonbbv1@gmail.com stuur om inligting te verkry.

  • The first business watch, known as Wellington Business Safety, was established in Wellington recently. This was done in partnership with Winelands Tactical Solutions, Wellington Rate Payers’ Association and the Wellington police.

You need to be Logged In to leave a comment.