Dereck Peceur, Drakenstein operasionele brandweerhoof verwelkom hier hul splinternuwe brandweerwa, Isuzi.


Drakenstein-munisipaliteit het ’n groot stap geneem om veiligheid en rampbestuur te verbeter met die bekendstelling van ’n splinternuwe brandweerwa, Isuzi.

Hierdie aankoms is moontlik gemaak deur ’n toekenning van R985 000 van die Wes-Kaapse Regering, wat die munisipaliteit in staat gestel het om die brandweerwa, met ’n waarde van R2,9 miljoen, saam te befonds.

Alhoewel die nuwe brandweerwa kleiner is as haar groter eweknieë, maak haar robuuste ontwerp en 4×4-ryvermoë dit moontlik vir brandbestryders om vinniger moeilike terrein te bereik.

“Hierdie voertuig is meer as net ’n masjien; dit is ’n simbool van ons gesamentlike vasberadenheid om veiligheid te prioritiseer, ons inwoners te beskerm en ons gemeenskap te dien,” het Stephen Korabie, Burgemeester van Drakenstein-munisipaliteit, gesê tydens die amptelike oorhandigingseremonie by die Paarl Brandweer Stasie.

Hy het verder gesê dat veiligheid een van die hoekstene van odie munisipaliteit se strategiese plan vir dienslewering is.

Dít nadat die munisipaliteit vanjaar weer talle uitdagings in die gesig gestaar het – van verwoestende brande in informele nedersettings tot die enorme brand op die hange van Paarlberg net drie weke gelede.

Korabie het beklemtoon dat die nuwe brandweerwa die munisipaliteit se toewyding weerspieël om sy brandbestryders toe te rus met die gereedskap wat hulle nodig het om enige noodgeval die hoof te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.