Die bekende Wellingtonner en akademikus, prof. Michael le Cordeuer, het sy nuwe boek getiteld, Halala Suid-Afrika . . . Refleksie oor 25 jaar se groeipyne van ’n jong demokrasie, vrygestel.
Le Cordeur, ’n oudleerder van Pauw Gedenk Primêr en Bergrivier Sekondêr, en oudonderwyser van Bergrivier en Weltevrede, is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en het ’n passie vir die Afrikaanse taal.
Halala (Ewig vir jou) Suid-Afrika bevat ’n keur van Le Cordeur se artikels oor die afgelope 25 jaar en is ’n besinning van Suid-Afrika as ’n jong demokrasie. Dit bevat ’n breë spektrum – van onderwys, taal, kultuur, werkloosheid, nasiebou, die jeug tot die versugting na leierskap.
Soos die inwoners van die Bo-Kaap (op die voorblad) met al sy kleure en kulture al vir eeue in vrede saam bestaan, so glo die skrywer dat Suid-Afrika ’n tuiste bied vir al sy mense en dat Suid-Afrikaners in harmonie met mekaar wil en kan lewe – ons is immers een groot familie. • Prof. le Cordeur is verlede week ook deur die Universiteit Stellenbosch vereer deur ’n mediaprys vir uitmuntendheid.
Die afdeling korporatiewe kommunikasie het verlede jaar ’n projek van stapel gestuur om erkenning te gee aan sy personeel wat uitstekend daarin geslaag het om hul navorsing en kundigheid via die media te kommunikeer.
Die eerste mediaprys van uitnemendheid is in Oktober 2018 gemaak. Die proses is vanjaar verfyn en ’n formule is gebruik om ontvangers te bepaal.
Daar is onder meer gekyk na hoeveel keer en hoe gereeld die navorser in die media verskyn het, die gehalte van artikels en die reikwydte van die betrokke publikasie, nuuswebblad of uitsaaimedium.
Akademici moes ook ’n minimum aantal keer in die media wees om in aanmerking te kom.