Nuwe bewuswording oor natuurbewaring, misdaad

Wellington se gemeenskapsorganisasies soos WAG / Stop Misdaad en DEW (Drakenstein Environmental Watch – die organisasie wat Wellington se mense van die nadele van die stadsraad se beoogde verbrandingsoond bewus maak) het die afgelope paar weke daarin


Wellington se gemeenskapsorganisasies soos WAG / Stop Misdaad en DEW (Drakenstein Environmental Watch – die organisasie wat Wellington se mense van die nadele van die stadsraad se beoogde verbrandingsoond bewus maak) het die afgelope paar weke daarin geslaag om ’n splinternuwe vlaag van bewuswording onder die dorp se inwoners aan die gang te sit.

Volgens Bernus van der Westhuizen, een van die organiseerders van DEW, het veral ná verlede week se vergadering oor die gevare wat die beoogde verbrandingsoond vir Wellington se mense inhou, ’n splinternuwe golf van verset teen die oprigting van só ’n oond onder die dorp se inwoners posgevat.

“Die oorweldigende reaksie van Wellington se inwoners op ons oproep om Woensdag aan ’n massabetoging in Wellington se strate teen die beoogde verbrandingsoond te onderneem, het ons stoutste verwagtinge oortref. Vir die eerste keer sedert DEW enkele jare gelede sy stem teen hierdie oond begin dik maak het, het Wellington se mense hulle volledig agter DEW se verset geskaar.”

Van der Westhuizen se woorde word beaam deur Francois Theron van WAG / Stop Misdaad.

Volgens Theron is daar nie net ’n veel beter begrip onder die dorp se inwoners oor die noodsaak om met nuwe oë na dinge soos die verbrandingsoond en die bekamping van misdaad te kyk nie, daar is ook groter belangstelling in die pogings wat deur WAG en die plaaslike polisie in werking gestel word om die groeiende vlaag van werkloses wat na sekere dele van die dorp stroom, effektief te beheer.

“Mense begin om op voetsoolvlak deel te word van ons pogings om van Wellington ’n skoon en misdaadvrye dorp te maak. Een van die bewyse hiervoor is beslis die skerp styging in die aantal mense wat deel geword het van WAG se aksie teen rommelstrooiery. Ons het ’n paar naweke gelede met ’n handjievol helpers begin om die rommel langs die pad in Bainskloof te gaan optel. Saam met die eerste span helpers was daar kwalik vyf skoolkinders. Die volgende naweek het die getal helpers dramaties toegeneem en onder hulle was daar ’n bus vol leerders van St Albans Primêr. Dieselfde skool het die volgende naweek ’n nog groter groep leerders na ’n parkie in Newton geneem waar hulle al die vullis opgetel en verwyder het. Die afgelope naweek het ’n nog groter groep skoolkinders (wat ook weer ’n busvrag leerders van St Albans ingesluit het) vragte rommel uit die Spruitrivier gehaal. Hulle het bo by Hugenote Laerskool begin en afgewerk tot onder langs die gronde van die Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie!”

Theron het bygevoeg dat WAG ook deel was van ’n aksie wat vroeër in Maart deur die SAPD se Sektor 3 in die sakekern en omliggende dele van Wellington van stapel gestuur is. Altesaam 35 mense – verteenwoordigers van WAG, ’n aantal sekerheidsfirmas en ’n snuffelhond – het saam met lede van die SAPD aan die aksie deelgeneem. Die doel was om die publiek bewus te maak dat probleemgebiede deur die SAPD aangespreek word.

Begelei deur SAPD voertuie en voertuie van die sekerheidsfirmas is vooraf geïdentifiseerde plekke in die sakekern van Wellington besoek. Die voertuie was in radioverbinding met kleiner spanne wat per voet verskillende gebiede gedek het. Volgens die SAPD is die probleme wat geïdentifiseer is tydens die aksie meesal sogenaamde B-misdrywe soos drink in die openbaar en dronkenskap. Die voetpatrollies het ook gebiede besoek waar vragmotors Saterdae met plaaspersoneel parkeer. So is bevind dat die parkeerplek langs Wellington se munisipale kantore swaar leef onder die plaaspersoneel wat geen toiletgeriewe tot hul beskikking het nie (ook nie tydelike chemiese toilette nie). Die wêreld lê ook besaai met papiere en bottels, al is daar enkele vullisdromme op die perseel.

Volgens Theron het die bewusmakingsaksie getoon dat maatskaplike probleme – veral met die binnekoms van baie plaaspersoneel – nie op ’n enkelenvoudige wyse aangespreek kan word nie. “Die probleem wat ons op grondvlak waargeneem het, is nie slegs ’n polisiëringsprobleem nie, maar een wat interdissiplinêr deur verskeie afdelings van Drakenstein-munisipaliteit, nie-regeringsorganisasies, kerke en ander rolspelers aangespreek sal moet word.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.