Nuwe bestuurder vir Breytenbach Sentrum

Francois Lötter, voormalige senior assistentredakteur van Die Burger en Beeld, is met ingang van 1 Mei aangestel as bestuurder van die Breytenbach-sentrum in Wellington.


Francois Lötter, voormalige senior assistentredakteur van Die Burger en Beeld, is met ingang van 1 Mei aangestel as bestuurder van die Breytenbach-sentrum in Wellington.

Lötter het ná sy studies aan die Vrystaatse Universiteit as algemene verslaggewer by Volksblad in Bloemfontein begin werk. Hy was hoof van die koerant se buitekantore in Kroonstad en Kimberley, en van 1987 tot 1991 die koerant se politieke beriggewer in die parlement in Kaapstad en in Pretoria. Daarna was hy buitelandse redakteur van Beeld in Pretoria en Johannesburg, nuusredakteur en redakteur in Pretoria en uiteindelik ook die koerant se senior assistentredakteur. Hy was van 2004 tot 2011 senior assistentredakteur van Die Burger in Kaapstad.

As redaksielid van Beeld en Die Burger was Lötter betrokke by kulturele en gemeenskapsprojekte soos Aardklop-kunstefees in Potchefstroom, die Absa KKNK in Oudtshoorn en die Suidoosterfees in Kaapstad. Hy was ook redakteur van die Absa KKNK se feeskoerant Krit.

Lötter was die afgelope paar jaar betrokke by die Eugène Marais Stigting in die Paarl en is ook lid van die trusteeraad van die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat tussen die Paarl en Wellington.

Hy is getroud met Zippy, woon in die Paarl en is die pa van ’n tweelingdogters en ’n seun.

Lötter volg vir Theo Kemp op, wat sedert die sentrum se opening in 2007 tot einde verlede jaar as uitvoerende bestuurder gedien het.

Louis Duvenage, voorsitter van die direksie van die Breytenbach-sentrum, het Kemp bedank vir die wyse waarop hy die sentrum gevestig het as ’n gemeenskapsbaken in Wellington en in die groter Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse literêre, kultuur-, musiek-, drama- en kunskringe.

“Theo het die grondslag gelê, en het die sentrum opgebou tot ’n organiese projek wat die potensiaal het om aan te hou groei en verder te bou aan programme wat tot voordeel is van die mense van Wellington en elders,” het Duvenage gesê. “Lötter vat nou dié stokkie by hom oor om die etos van die sentrum verder uit te bou. Ons wens hom alle sterkte toe.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.