Die lint word geknip tydens die opening van Laerskool Noord-Eind se veeldoelige baan. Van links is Benje Malherbe (onderhoofseun), Petri Potgieter (sporthoof), André Verhoog (skoolhoof), Mynhardt Loubser (beheerliggaam-voorsitter) en Lisa Senekal (hoofmeisie).Foto: Heleen Rossouw


Die Laerskool Noord-Eind pronk met ’n nuwe veeldoelige sportbaan. Die baan is Saterdag amptelik geopen.

Petri Potgieter, die sporthoof, sê so ’n baan is al baie lank ’n droom en word sedert 2016 beplan. “Die Laerskool Noord-Eind het die begeerte gehad om ’n oefenveld vir sy leerders te bou waar hulle die geleentheid gaan hê om op ’n ander oppervlak as gras te oefen en wedstryde te speel. Sodoende sal ons met die beste van die bestes kan meeding.”

Potgieter sê meer as een sportsoort kan nou op die baan beoefen word. Dit sluit in netbal, hokkie, tennis en mini-krieket.

“ ’n Groot behoefte het ontstaan om op ’n gelyke oppervlak hokkie te oefen omrede ons teen omliggende skole op ’n astro[-baan] speel. Met die bou van hierdie baan bied ons nou vir meer sportsoorte as net hokkie ’n gelyke speelveld,” voeg Potgieter by.

Die oprig en bou van die baan het ongeveer vier maande geneem om te voltooi. Potgieter het ook uitgebrei oor die talle voordele wat die baan vir sportiewe leerders inhou. Omdat die baan ’n gelyke oppervlak het, verbeter dit atlete se spoed, fiksheid en reaksietyd. Hy sê ook ernstige beserings tydens sportaktiwiteite is minimaal in vergelyking met ’n grasoppervlak.

Die opening van die baan was ook ekstra spesiaal omdat die skool Sondag (10 April) sy 117de verjaarsdag gevier het.

André Verhoog, die skoolhoof, bestempel dit as ’n groot gebeurtenis in die geskiedenis van die Laerskool Noord-Eind. “Dit maak hierdie geleentheid net nog meer spesiaal. Ons sien daarna uit om die leerders van Laerskool Noord-Eind hierdie geleentheid te gee om op so ’n baan te oefen.”. Noord-Eind Primary School boasts a new multi-purpose sportsfield. The opening ceremony took place on Saturday (9 April).

You need to be Logged In to leave a comment.