Die Bôrdienghuis, gewilde teater-restaurant van die Breytenbachsentrum op Wellington, het ’n splinternuwe baadjie vir 2016 aangetrek.
Christine Falck, die Bôrdienghuis se nuwe bestuurder, sê ’n opwindende nuwe reeks aanbiedinge word vir vanjaar beplan.
Benewens die gebruiklike weeklikse optredes deur bekende kunstenaars gaan die Bôrdienghuis ook vanjaar ’n wye verskeidenheid ander programme aanbied. Dit sluit in kunsfilm-aande en stimulerende gespreksaande oor onderwerpe soos die filosofie, wat onder leiding van bekendes op verskillende vakgebiede sal geskied. Optredes deur nuwe en opkomende kunstenaars en ook deur gewilde komediante sal ’n gereelde gebeurtenis wees.
“Op die oomblik is ons besig om die binnekant van die teater en die kombuis te verander en te vergroot. Hierdie nuwe Bôrdienghuis sal amptelik ingewy word op 13 Februarie wanneer Arno Carstens spesiaal by die Bôrdienghuis kom optree.”
Christine, wat die afgelope tien jaar die bekende Aan de Braak-teater op Stellenbosch bedryf het, sê benewens die spesiale disse wat voortaan deur die kombuis aangebied gaan word, die kroeggedeelte in die Bôrdienghuis voortaan uitsluitlik die produkte van die Wellingtonse wynplase gaan aanbied.
Meer besonderhede oor komende optredes by die Bôrdienghuis kan verkry word by 021 873 2786.