’n Klein hondjie het verlede week ’n noue ontkoming in die Paarl-arboretum gehad toe hy in die kake van ’n rottweiler beland het nadat die groter hond na bewering van sy leiband losgebreek het.

Die presiese gebeure is onduidelik, maar volgens ’n inwoner, wat kort ná die voorval op die toneel was, het die klein hondjie daarin geslaag om weg te kom.

“Ek het daar aangekom nadat die verlore en beseerde hond gekry is nadat hy weggehardloop het, en die eienaar van die rottweiler sy eie hond gevang en onder beheer gekry het.”

Die omvang van die klein hondjie se beserings is egter nie bekend nie. Verdere kommer is gewek oor die veiligheid van die arboretum toe twee veiligheidswagte, wat glo na die skeepsvraghouer-sentrum in die gebied omsien, genader is vir hulp. Die twee het glo gereageer dat hulle net opdrag het om oor die sentrum te waak.

“Ek het gehoop die wagte wat in die voertuig sit, sou gaan kyk of hulle die man met die rottweiler kon gaan help omdat hy kinders by hom gehad het, maar hulle was nie bereid nie, want hulle pas net die blikgebou op,” sê die inwoner, wat anoniem wil bly.

Die Drakenstein-munisipaliteit sê hy weet van die voorval waartydens die groot hond die kleiner hond aangeval het.

Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê “die regulasies vir besoeke aan die arboretum vereis eerstens dat alle honde aan ’n leiband moet wees en inwoners is bewus van hierdie regulasie”.

“Tweedens moet honde-eienaars ook altyd agter hul diere skoonmaak en die omgewing so skoon hou.”

Oor die algehele veiligheid van die arboretum sê Esau “daar is wagte in die arboretum wat toesig hou oor die algehele veiligheid in die park”.

“Honde-eienaars is egter steeds verantwoordelik vir hul diere se optrede in openbare gebiede.”

You need to be Logged In to leave a comment.