Soos dit ’n goeie tradisie betaam, het Kersvader wéér besluit om volgende Saterdag (14 Desember) geskenke by die gewilde Desember-volmaanpiekniek by die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monu­ment (ATM) uit te deel.

’n Perfekte aand met kindervermaak, speelparke en buitelugspeletjies vir die jongspan – asook ’n sonsondergang gevolg deur ’n volmaan en Kersvader – beloof om die dag in ’n onvergeetlike geleentheid om te skep. Aangesien die piekniekreeks ten bate is van “Laat ons Lees!”, die ATM se geletterdheidsprojek, word besoekers versoek om ’n nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Die hekke open reeds om 16:00 waarna kinders van 17:00 tot 19:00 hul gesigte kan laat verf, in die tuine kan speel en aan kunsvlytaktiwiteite kan deelneem. Vir die ouer kinders is daar ook vaardigheidsaktiwiteite.

Gaste word aangemoedig om die omgewing en die simboliekbelaaide beeldhouwerk te verken – ’n gratis begeleide toer vind om 18:00 plaas om als te verduidelik.

Om 19:30 behoort Kersvader sy opwagting te maak om geskenke uit te deel, dus moet ouers asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:30 in sy kous in die Besoekersentrum besorg.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek boonop ook aan die springbok (guchas in Khoi) gewy. Dit was ’n belangrike vleisbron vir die /Xam en het hulle voor groot uitdagings gestel wanneer dit gejag is.

Springbokke is as magiese diere so geestelik en fisiek na aan die /Xam dat die jagters die bewegings van die diere as slae en tikke onder hul eie vel in meelewing kon voel. Plekname soos Springbok, Mofulatshepe (Plek waar die Springbokke wei) en Springbokvlakte wys hoe belangrik hierdie diere vir Suider-Afrikane is.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of piekniekmandjies by die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – dié bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits; genoeg parkeerplek is beskikbaar. Die geleentheid duur tot 22:00.

Kaartjies kos slegs R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioentrekkers en kinders, en is gratis vir kinders onder ses, jaarpermithouers en Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Kaartjies is by quicket.co.za of by die hek te koop. Vir inligting, kontak Stefanie Rasztabiga by 021 8630543 of kommunikasie@ taalmuseum.co.za. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by cfah.org.za/fullmoon.

Die volgende volmaanpieknieks is op 10 Januarie, 14 Februarie (op Valentynsdag) en 14 Maart in 2025.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/ 021 863 0543, of volg hulle op Facebook. Die webtuiste www.taalmuseum.co.za bied virtuele toere van die monu­ment en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonu­ment asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte is beskikbaar. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte – kontak hulle via diesuikerkan.co.za of by 082 216 2510.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article