Hier oorhandig die voorsitter van Street Smart, Melanie Burk, die skenking aan Petra Nel van Norsa.Foto:


Norsa baat uit besoekers aan Wellington se welwillendheid.

“Terwyl jy besig is om ’n lekker tyd te hê, kan jy terselfdertyd ook ander mense help. Die R5 wat jy by die rekening vir jou ete of drankie sit, klink miskien min, maar saam maak dit op die ou einde ’n verskil in ander mense se lewe.

Dít was verlede week die boodskap van Melanie Burke, voorsitter van Street Smart South Africa, by ’n oorhandigingseremonie in Wellington.

Die geleentheid is bygewoon deur verteenwoordigers van die wynplase en eetplekke in en om Wellington wat reeds etlike jare deel van die projek uitmaak. Hulle is Bain’s Caffé by Wellington Wines, Dinner for 20, Grand Dédale Country House, Uncorked @ Linton Park en Wellington Wines. (In die Paarl was die restaurant by Glen Carlou vanjaar ook betrokke).

StreetSmart South Africa is in 2005 begin na aanleiding van ’n soortgelyke inisiatief in Brittanje om straatkinders te help. Daardeur kry besoekers, wat ’n deelnemende restaurant, wynplaas of oornagplek besoek, die keuse om R5 by hul rekening te voeg. Alle geld wat ingesamel word, word aan die einde van die jaar aan ’n plaaslike instansie binne dieselfde dorp geskenk.

Die projek word onder meer deur emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ondersteun.

StreetSmart kon vanjaar meer as R1 miljoen aan 38 organisasies oor die land heen uitbetaal.

Die R45 000 wat aan Norsa oorbetaal is, is ingesamel deur besoekers aan deelnemende instellings in en om Wellington asook ’n skenking van R20 000 deur Wellington Wines.

Wellington Wines het vroeër vanjaar ’n toptienplek behaal met sy 2016 La Cave Chenin Blanc by Standard Bank se Chenin Blanc-kompetisie en kon as deel van sy prys ’n bedrag skenk aan ’n projek van sy keuse.

Norsa bestaan reeds sedert 2006 in Wellington en bestuur onder meer sopkombuise, dagsorgsentrums vir kleuters, huise waarin ouerlose kinders versorg word en rekenaar- en studiesentrums vir leerders.

Volgens Petra Nel van Norsa sal die skenking aangewend word om die dienste van ’n maatskaplike werker, Claudia Schutte, by Linomtha-huis in Mfulenistraat te ondersteun.

Dié fasiliteit is in Augustus vanjaar geopen. Norsa verskaf dáár ’n beradingsdiens vir kinders en ook hul ouers. ’n Spelterapeut se dienste is beskikbaar en daar word ook gepoog om kinders wat van hul gesinne vervreemd geraak het, weer met hul families te herenig. Die sentrum is van Maandae tot Donderdae tussen 10:00 en 16:00 oop.

“Linomtha beteken ray of light and hope,” vertel Nel.

Burke het ander plaaslike instellings genooi om ook by die StreetSmart-projek aan te sluit en sodoende hul deel vir die gemeenskappe te doen. • Vir nog inligting, besoek www.streetsmartsa.org.za of www.facebook/StreetSmart South Africa, of kontak admin@streetsmartsa.co.za oor hoe ondernemings betrokke kan raak.

You need to be Logged In to leave a comment.