Van die gr. 1-3 leerders van Kersboslaagte Primêre Skool met die Umbro sokker-T-hempde, kouse en broeke wat hulle ontvang het van die Ranheim-sokkerklub.Foto: Anan Jacobs


Kersboslaagte Primêre Skool in die Paardeberg het onlangs ’n besoek ontvang van ’n Noorse sokkerklub wat die leerders aan dié sport blootgestel het.

Die Ranheim-sokkerklub het die skool van Maandag tot Woensdag saam met sielkundiges van die organisasie Familieverkontotret, wat al sedert 2005 ’n pad saam met die skool stap, besoek.

Kersboslaagte se skoolhoof, Donavon Meyer, sê Familieverkontotret bestaan uit ’n groep beraders en sielkundiges van Noorweë. Hulle besoek jaarliks verskeie minderbevoorregte skole in Kaapstad, insluitend Kersboslaagte, waar hulle skoolbehoeftes soos skool­skoene en klere aan die leerders uitdeel.

Volgens Meyer het Familieverkontrotret se hoof, Sverre Jor, die skool die eerste keer in 2005 besoek, en van daar af het die verhouding verder ontwikkel.

“Omdat dit ’n plaasskool is en die meeste van hierdie leerders nie so bevoorreg is as ander nie, help [Familieverkontrotret] daardie kinders met berading, skenking van skoolskoene en ander geskenke. Die skoolskoene en geskenke word aan die einde van die jaar uitgedeel.”

Die besluit om vanjaar die Ranheim-sokkerklub saam te nooi, was om ’n gevoel vir sport by die leerders te kweek. Die inisiatief is deur Jor en Stig Winsnes, die hoof van die Ranheim-sokkerklub, gedryf.

“Omdat die skool nie veel by sport betrokke is nie, het die sokkerklub besluit om die leerders te wys hoe ’n sokkerspan lyk en wat hulle presies doen wanneer hulle oefen. Dit is net om die leerders daardie blootstelling aan die sport te gee,” verduidelik Meyer.

Ranheim het ook aan elke leerder nuwe sokker­uitrustings ter waarde van R2 000 elk geskenk.

Meyer sê dit is die eerste keer sedert 2019 wat Familieverkontrotret die skool besoek omdat die besoeke vir twee jaar weens die Covid-19-pandemie uitgestel moes word.

Hulle sal later vanjaar terugkeer om skoolskoene en -klere aan die leerders te oorhandig.

A Norwegian soccer club visited Kersboslaagte Primary School this week to give learners a taste of what the sport is all about. They also received soccer gear to get a real feel for the game.

You need to be Logged In to leave a comment.