Die tydige reaksie van die Noorder-Paarl-buurtwag het toegesien dat ’n vragmotor wat verlede week op die N1 onklaar geraak het, nie geplunder is nie.
Dié buurtwag het vir ure lank die vragmotor help beveilig totdat ’n insleepdiens dit verwyder het.
Die betrokke vragmotor het op 23 April op die N1 net voor die Lustigan- en Drakensteinweg-brug tot stilstand gekom. Die eienaar van die vragmotor, wat ’n lid van die Albertinia-plaaswag is, het kort nadat die vragmotor onklaar geraak het, die hulp van AfriForum se buurtwag-groep, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsmaatskappye, ingeroep aangesien ’n groep mans probeer het om die vragmotor se vrag te buit.
Die Noorder-Paarl-buurtwag het van die situasie te hore gekom en drie lede het dadelik die vragmotorbestuurder te hulp gesnel.
’n Lid van die SAPD en SJC Security het saam met die buurtwag gereageer en daarin geslaag om die vragmotor en sy vrag te beveilig.
Die groep mans wat probeer het om die vragmotor te plunder, het egter gefaal en reeds op die vlug geslaan.
Volgens die eienaar van die vragmotor het dié mans wel gedreig om terug te kom en die vrag te buit. As sodanig het lede van die Paarl-Noord-buurtwag en ’n lid van Denneburg-buurtwag saam met die eienaar van die vragmotor en sy assistent gebly om die vragmotor te beveilig.
’n Insleepvoertuig het sonder voorval daarin geslaag om die vragmotor weg te sleep.