Die plaaslike ambulansbeamptes Garth Botha en Connie Rooi by die P1-ambulans wat net uitgaan na ernstige en lewensbedreigende voorvalle.Foto: Chantélle Hartebeest


Die Metro EMS-ambulansdienste in die Paarl spits hom toe op diens aan die gemeenskap met ’n sterk fokus op omgee. Die Prioriteit 1 (P1) -ambulans is ’n instelling wat na lewensbedreigende noodgevalle uitgaan.

Volgens Garth Botha, ’n ambulansbeampte wat op die P1-voertuig werk, het die projek ontstaan uit die behoefte om vinniger op ernstige gevalle te reageer. Hy verduidelik dat die span ’n intensiewe skof werk en beperkte afdae het. Die span moet binne 15 minute in stedelike gebiede wees en binne 40 minute in landelike gebiede, wat die druk op die diens verhoog.

Een van die grootste uitdagings vir Botha en sy kollega, Connie Rooi, is die gevaarlike padomstandighede wanneer hulle deur verkeer probeer beweeg. Die alledaagse gevaar wat hulle ondervind, het selfs ’n ernstige nekbesering vir Botha veroorsaak, wat hy toeskryf aan die gedrag van motoriste wat op die nippertjie probeer rem trap en padgee. Hy doen ’n beroep op motoriste om vroeër vir die ambulans ruimte te maak en nie hard rem te trap nie, sodat die ambulans veilig deur kan beweeg.

Pasiënte wat deur die P1-voertuig behandel word, sluit gevalle in soos ernstige aanrandings, skietwonde, asma-aanvalle, hartaanvalle en beroertes.

Hoewel ander ambulansvoertuie ook P1-gevalle hanteer, is die doel van die P1-voertuig om altyd gereed te wees vir lewensbedreigende oproepe. Botha verduidelik dat die ander voertuie soms vasgevang word in minder ernstige gevalle, wat dit onmoontlik maak om vinnig na meer ernstige situasies oor te gaan.

Hulle werk onder moeilike omstandighede, en Botha beklemtoon die belangrikheid van respek van die gemeenskap. Hy noem daar is dikwels lelike kommentaar en selfs fisieke bedreigings teen ambulanspersoneel. In sommige gevalle is die werk so gevaarlik dat dit nodig is om polisiebegeleiding te hê om toegang tot sekere gebiede te kry. Hy vra die gemeenskap om nie vals inligting aan die ambulans te verskaf nie, aangesien dit kan lei tot misverstande en vertragings by die hantering van werklike noodgevalle.

Ten spyte van die uitdagings en die lang ure wat hulle werk, is Botha en Rooi dankbaar vir die ondersteuning van hul kollegas.

Nadia Ferreira, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die instelling van die P1-voertuig bevestig. Sy beklemtoon dat P1-gevalle lewensbedreigende toestande is, terwyl minder ernstige gevalle as Prioriteit 2 (P2) geklassifiseer word.

You need to be Logged In to leave a comment.