Ná ure se gesit en wag vir mediese hulp by Paarl Hospitaal se noodeenheid, en geen personeel wat opvolg oor noodgevalle in die wagkamer nie, het ’n driejarige seuntjie se ma hom eerder terug huis toe geneem om te versorg nadat hy sy kop lelik gestamp het.
Rosaline Julies vertel dit was vroeg verlede Sondagaand (6 Oktober) toe haar agterkleinkind Cheslin Alfos (3) sy kop aan die kant van ’n baksteenmuur gestamp het.
“Ek kon die slag hoor soos wat sy kop kap. Sy kop het dadelik begin swel en daar het ’n reuse knop gestaan. Ek het groot geskrik en dadelik hulp gesoek.
“Dit was omstreeks 19:30 en teen 20:00 was my kleindogter Nicole met haar seuntjie by die hospitaal. Teen 22:00 het ek vir haar gevra of sy gehelp is en sy het gesê nee hulle wag nog, want die wagkamer was vol en daar is nie eens sitplek nie.”
Teen 01:00 het Nicole eerder terug huis toe gegaan. Rosaline beweer in die vyf ure wat Nicole met Cheslin by die hospitaal was, is net twee pasiënte gehelp.
Julies voel sterk daaroor dat kinders wat na die noodeenheid gebring word, by die hospitaal geprioritiseer moet word.
“Ek voel net in die verlede as jy met jou kind hospitaal toe gegaan het, is jy onmiddellik gehelp. Nicole is my kleinkind, maar ek het haar soos my eie dogter grootgemaak. Sy was baie siek toe sy in die Paarl by my kom woon het – jare gelede. Ek het so te sê by daai hospitaal geboer. Ek kon net reguit instap met haar en haar lêer gaan trek en dan word ons gehelp. Ons hospitaal het baie versleg en ek voel regtigwaar die kinders moet voorkeur gegee word.”
Nicole het vir Rosaline vertel dat die personeel nie eens by ongevalle rondloop om na die wagtende pasiënte te kyk nie, want die personeel is heel eenkant afgesny.
“Ook, as jy wil hardloop vir dringende hulp, dan keer die sekuriteit jou om hulp te soek.”
By die huis het Rosaline en Nicole klein Cheslin maar self gedokter.
“ ’n Mens sou dink as jy hospitaal toe gaan, dan gaan jy mos vir hulp. Met ’n kopbesering kan enigiets gebeur as ons nie mediese hulp soek nie. Jy dink net solank hy net by die hospitaal uitkom, gaan hy veilig wees, want daar is mense wat weet wat om te doen, maar kyk nou wat gebeur.”
By navraag het Leensie Lötter, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, gesê by klinieke probeer hulle so ver as moontlik jonger kinders en bejaardes prioritiseer.
“Ons kan dit egter nie in ons hospitale se noodeenhede doen nie, want ons moet pasiënte wat dringende sorg nodig het, prioritiseer. Daarom maak al ons hospitale gebruik van ’n triage-stelsel om seker te maak ons help eerste die pasiënte met lewensbedreigende toestande of beserings.
“Met sy aankoms by die hospitaal se noodeenheid is baba Alfos se toestand volgens die triage-stelsel geassesseer. Sy toestand was stabiel en hy is geel ‘getriage’ binne ’n halfuur nadat hy by die noodeenheid aangekom het. Deur die loop van die Sondagaand is daar 70 pasiënte gesien, van wie twintig oranje en rooi ‘getriage’ is, en wat besonders gekompliseerde noodgevalle was wat meer tyd geverg het om te hanteer. Vier dokters was in die onderskeie dele van die noodeenheid aan diens, insluitend resussitasie, konsultasie en trauma-behandeling. Hulle is ondersteun deur die verpleegpersoneel aan diens.”
Lötter voeg by dat Paarl Hospitaal reeds talle inisiatiewe gebruik om sy dienslewering te verbeter.
“Net soos alle hospitale in die openbare gesondheidstelsel, is Paarl Hospitaal ook onder druk as gevolg van begrotingsbeperkings en beperkte hulpbronne. Wanneer ons noodeenheid baie besig is, kan dit langer wagtye veroorsaak omdat ons minder personeel het. Ons besef dat langer wagtye frustrerend kan wees en vra ons pasiënte om asseblief geduldig te wees en met respek op te tree teenoor ons personeel.
“Hulle doen hul bes ondanks moeilike omstandighede. Die gemeenskap kan ons verder help deur slegs na die noodeenheid te gaan vir ’n werklike noodgeval of lewensbedreigende siekte of besering. As jy deur ’n gesondheidswerkeras groen ‘getriage’ word, kan jy verwag om te wag vir gesondheidsdienste by ons noodeenheid omdat ons eers pasiënte moet help wat rooi en oranje ‘getriage’ is.”