Daar is nog soveel onbeantwoorde vrae waarmee die familie van die vierjarige Thoscio Macnico Alexander worstel nadat die kleuter in November 2022 deur ’n munisipale vragmotor in Smartie Town, Paarl-Oos, doodgery is.
Die voorval het op 29 November 2022 omstreeks 10:15 op die hoek van Monica- en Blue Moon-straat gebeur. Thoscio en ’n neef van hom was die betrokke dag in die sorg van hul oom, terwyl sy ouers, Victoria Alexander en Macniel Smit, en grootouers Catherine en Nicolas Alexander, gewerk het. Hulle het saam met maatjies buite gespeel toe die tragedie gebeur het.
Nicolas het op ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê: “Hulle (die maatjies) het op die sypaadjie gestap en Thoscio het net reg langs die sypaadjie gestap – half in die pad. My ander kleinkind, wat saam was toe die ongeluk gebeur het, het gesê ‘Oupa, toe ek weer sien toe vat die trok vir Thoscio en sleep hom saam’. My kleinkind, wat alles aanskou het, het huis toe gehardloop om te kom sê die trok het Thoscio omgery”.
Dit is vandeesmaand een jaar en ses maande sedert die kleintjie se dood en die Alexander-familie sê die Paarl-Oos-polisie het tot nou nog nie ’n besoek by hulle afgelê om hulle oor die ondersoek in te lig nie.
“Vandat my kleinkind doodgery is, was hier nog nie een speurder nie. Ons hoor nie van die saak nie. As ons polisiekantoor toe gaan, dan word vir ons vertel mense gaan uitkom, of hulle gee ’n tyd wanneer ons hulle weer moet kom sien, want die mense wat met die saak werk, is siek of hulle kom eers op ’n ander tyd in.
“Toe ons Vrydagoggend (3 Mei) weer by die polisiekantoor was, toe vertel die een polisieman vir ons ‘julle moenie worry oor daai saak nie’.
“Buiten die polisie het die munisipaliteit ook nie eens teruggekom na ons om te praat oor wat gebeur het nie. Ons kry nie antwoorde nie. Vir my is op die toneel gesê die dag toe my kleinkind doodgery is, mog die man (die bestuurder van die vragmotor) nie bloed laat trek het nie, want hy het hoëgraadse siektes soos bloeddruk, gout (jig), diabetes en nog ander goed. Toe het ek die polisiebeampte gevra maar mag julle hom dan nie laat urineer nie, aangesien die man nie bloed kan laat trek nie, en die beampte het net gesê dit kan nie gebeur nie.”
Geen verdere diepliggende rede is deur die beampte verskaf oor hoekom die verdagte se bloed en urine nie getoets mag word om vas te stel of hy tydens die voorval onder die invloed was nie.
“Loop die saak nou net dood en ons moet sit met die hartseer? Dit is Thoscio se soveelste verjaarsdag wat hy nie saam met ons hier is nie, en die mense loop hier rond asof niks gebeur het nie. Almal bespiegel net, maar ek wil nie agter stories aangaan nie. Ek wil hê die waarheid moet seëvier. Ons dien ’n lewende God en ons wil die saak agter die rug kry.”
Die Paarl-Oos-polisie is ingelig oor die klagtes, waarop kapt. Basil Seekoei, ’n polisiewoordvoerder by dié kantoor, soos volg reageer het: “ ’n Saak van strafbare manslag word tans deur Paarl-Oos se speurders ondersoek. Die bewering wat deur die familie gemaak is, sal formeel ondersoek word.”
Louis Pienaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het by navraag oor die insident gesê: “Drakenstein-munisipaliteit is steeds besig met die ondersoek en kan dus nie nou al kommentaar lewer oor enige bevindinge nie”.