Drakenstein-munisipaliteit is verbind tot die ontwikkeling en onderhoud van die dorpe se infrastruktuur.
“Ordentlike infrastruktuur is ’n belangrike ondersteuningsfaktor vir die ontwikkeling en uitbreiding van ’n dorp,” het munisipale bestuurder Johann Mettler gesê.
Daarom gee die munisipaliteit elke jaar aandag aan die paaie in en om ons dorpe en word daar baie belê om paaie in ’n goeie toestand te hou en op te gradeer waar nodig.
Inwoners van Wellington sal oplet dat die jaarlikse herseël-program reeds in die dorp aan die gang is. Inwoners sal vooraf in kennis gestel word wanneer hulle area geraak word deur kennisgewings wat by hul huise afgelewer sal word. Vandaar sal die program verder uitgerol word.
Saam met die jaarlikse herseël-program gaan die kruising by Champagne- en Stokeryweg ook opgegradeer word. Hierdie gaan ’n grootskaalse opgradering wees en sal heel moontlik die verkeer in die omgewing beïnvloed.
Die werk sluit die totale oorbou van die aansluiting, asook ’n gedeelte van Stokeryweg in. Die munisipaliteit beoog om die werk te begin op 12 November en dit sal vir ’n periode van ses weke duur. Die bouersvakansie val binne die konstruksieperiode en dit mag ’n invloed op die werk hê.
Verkeersbeheer sal deurlopend toegepas word om die ongerief soveel as moontlik te beperk. Padgebruikers word versoek om gebruik te maak van alternatiewe roetes waar moontlik.
“Die munisipaliteit gee deurlopend aandag aan die paaie as deel van die infrastruktuur in die munisipaliteit. Goed versorgde paaie is ’n baie belangrike komponent om beleggings te lok na ’n area.
“Ons toewyding aan infrastruktuurontwikkeling en -onderhoud verseker inwoners en beleggers dat hulle planne gerugsteun sal word deur ordentlike infrastruktuur. Dit is deel van Drakenstein se verbintenis tot ’n plek van uitnemendheid.”