’n Reuseboom van Wellington het geval.

Dit was die algemene gevoel vandeesweek nadat die nuus gebreek het van die geliefde historikus van die dorp wat verlede Saterdag in die ouderdom van 81 dood is.

Christine Siebrits was ’n gebore en getoë Wellingtonner, die dogter van Imker Hoogenhout en kleindogter van die bekende digter en skrywer CP Hoogenhout.

Sy was jare lank ’n onderwyser by die Hoërskool Franschhoek, en ná haar aftrede het sy haar druk besig gehou met die bewaring van Wellington se baie waardevolle geskiedenis-skatkiste.

Sy was tot haar dood baie betrokke by onder meer die Wellingtonse museum. Sy was ook betrokke by Wellington ACVV, die Dames 18-vroueklub en destyds by die aksiegroep wat daaraan gewerk het om die Wellington-kollege se Huis Cummings te red nadat dit erg in ’n brand beskadig is.

Sy het ook gereeld deur die jare bydraes vir Paarl Post gelewer.

Olivia le Cordeur, bestuurder van die Wellington-museum en wat die afgelope 13 jaar baie nou saam met Christine gewerk het, het gesê dit is met groot ontsteltenis dat hulle die afgelope naweek die nuus oor Christine se skielike dood ontvang het en dat dit ’n geweldige verlies vir die hele gemeenskap van Wellington is.

Sy het gesê Christine was die grootste ondersteuner van die Wellington-museum en vir erfenis as ’n geheel.

“Haar kennis van Wellington kan nie geëwenaar word nie. Niks was te veel vir haar om te doen nie en ons kon altyd op haar nommer druk. Sy het altyd gevra: ‘Waar kan ek help?’

“Christine was passievol vir haar hele gemeenskap en het met verskeie projekte na almal uitgereik,” het sy bygevoeg.

“Christine het waarlik ’n hart van goud gehad en het gehelp waar sy kon om mense se lewe beter te maak. Met die koms van Covid-19 en die moeilike tye wat voorgelê het, en toe die museum ook nie operasioneel kon wees nie, het sy aanmekaar gevra of ons nog ons salarisse kry en sy wou net help, ook vir enigiemand wat gesukkel het.

“Baie dankie vir alles wat jy vir die museum en ook vir ons persoonlik beteken het. Dankie vir al die kere dat jy gegee het . . . sonder voorbehoud, sonder twyfel en altyd meer as wat van jou verwag is. Die wêreld het nog baie van jou kaliber nodig – ons kon so baie by jou leer.

“Jy was ’n leier, voorsitter, skrywer en ’n ewige opvoeder. Die eer om jou te ken en om so nou saam met jou te werk, sal vir altyd ons s’n wees.

“Ons innige meegevoel aan haar suster, Daphne Hoogenhout, haar seun DJ en skoondogter Jen, asook die uitgebreide familie. Rus sag, Christine.”

Dr. Elna von Schlicht, Wellingtonner en burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het die volgende op sosiale media geskryf:

“Liewe Christine Siebrits, dit is met oneindige hartseer dat die gemeenskap van Wellington verneem dat jy ons verlaat het. Jou passie, liefde, kundigheid, jou omgee vir ‘het lieve Wellington’, vir jong mense en vir die lewe, sal nooit vergeet word nie en laat ’n onvulbare leemte. Liewe Christine, rus sag, ons salueer jou.


. The much loved resident and heritage stalwart of Wellington, Christine Siebrits, has died at the age of 81.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article