Nóg ’n polisiebeampte verbonde aan die Paarl-misdaadintelligensie-eenheid is in hegtenis geneem ná bewerings van verkragting – kort nadat ’n konstabel van die Paarl-polisiekantoor ook vroeg verlede maand vir soortgelyke aanklagte in die hof was.
In die jongste voorval word die 31-jarige beampte daarvan beskuldig dat hy ’n 35-jarige vrou op 28 Junie verkrag het terwyl sy glo onder die invloed van alkohol was,
Dit is volgens ’n verklaring wat deur Phaladi Shuping, ’n woordvoerder vir die Onafhanklik Polisie- ondersoekdirektoraat (Opod), wat albei voorvalle ondersoek, uitgereik is.
“Daar word beweer dat die 35-jarige klaagster en haar manlike vriend op soek was na ’n plek wat alkohol verkoop toe hulle die polisieman omstreeks 01:00 ontmoet en hom gevra het vir ’n plek wat bier verkoop.
“Hulle het almal na ’n sekere huis gegaan, waar die polisieman glo twee biere gekoop en die klaagster en haar manlike vriend gevra het om na sy huis te kom,” het Shuping verduidelik.
By hul aankoms het hulle die biere gedrink en die manlike vriend het later op die bank aan die slaap geraak.
“Die polisieman het glo die klaagster aangerand, ’n mes teen haar nek gedruk en haar verkrag. Sy het haar manlike vriend wakker gemaak toe die polisieman na die badkamer gegaan het, en hulle het die huis verlaat.”
Die vrou het die voorval by die polisie aangemeld en Opod het die ondersoek oorgeneem nadat die verdagte as ’n polisiebeampte geïdentifiseer is.
Die beampte sou Dinsdag (9 Julie) vir ’n formele borgtogaansoek in die Paarl-landdroshof verskyn.
Paarl Post het verlede maand berig dat ’n konstabel op 10 Junie op R1 000- borgtog vrygelaat is nadat hy in hegtenis geneem is oor bewerings van seksuele aanranding van ’n 23-jarige student van Klapmuts, wat glo weens diefstal in die Paarl-polisiekantoor se selle aangehou is.
Die student, wie se identiteit aan Paarl Post bekend is, is op 4 Junie in hegtenis geneem nadat sy op heter daad betrap is terwyl sy glo ’n vibrator by ’n apteek in die Paarl wou steel.
Sy is toe in die Paarl-polisiekantoor se selle aangehou voor haar hofverskyning die volgende dag.
Dit is glo hier [in die polisieselle] waar die konstabel homself aan haar opgedwing het.