Ses verdagtes is vasgetrek na ’n plaasaanval in die Klipheuwel gebied.

Dit te danke aan die vinnige reaksie van talle plaaswag- en gemeenskapspolisiëring-groepe uit meer as sewe gebiede met ten minste 50 bakkies asook tien sekuriteitsfirmas, sowel as die polisie, wat opgeruk het na die gebied kort na die voorval.

Volgens ’n verklaring van die Klapmuts-plaaswag, is ’n gesin Saterdagaand omstreeks 19:00 op die plaas Droëvlei in die Klipheuwel-omgewing aangeval en aangerand. Drie familielede het ligte beserings opgedoen. Hulle is op toneel behandel deur lede van die Klapmuts en Windmeul-plaaswagte wat eerste op die toneel was na ’n noodoproep ontvang is. 

Volgens inligting is sewe gewapende mans by die voorval betrokke. Paaie in die omgewing is vinnig afgesper en omstreeks 20:30 is ’n verdagte voertuig op die R304 / R312-kruising opgelet en van die pas afgetrek. Ses verdagtes is daarin gevind en by verdere ondersoek is drie positief met die misdaad toneel op Droëvlei geidentifiseer. 

Hulle is deur die Malmesbury polisie in hegtenis geneem. Geen verdere inligting is tans beskikbaar nie.

Fanie Hattingh van die Klapmuts-plaaswag het al die betrokke party wat by die reuse operasie betrokke was bedank en gelukgewens vir hul betrokkenheid. 

You need to be Logged In to leave a comment.