Die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl het die derde agtereenvolgende tragedie beleef nadat nóg ’n leerder die afgelope naweek aan die hand van geweld gesterf het.
Lee-Hogan Williams (19), ’n gr. 11-leerder, is die afgelope Vrydagaand (16 Augustus) met ’n mes in die nek gesteek, waarna hy doodgebloei het.
Dié voorval volg kort ná Juliano King (18) se dood, ook weens ’n steekwond, en sowat twee maande ná die natuurlike dood van Shannon Cortereal (17), ook ’n gr. 11-leerder aan Paulus Joubert
Volgens Lee-Hogan se pa, Hilton Abrahams, het die voorval ná 20:00 plaasgevind toe Lee-Hogan en ’n vriend in die omgewing van die Fairyland-begraafplaas in Paarl-Oos gestap en ’n onbekende man Williams in die nek gesteek het.
“Ons was by die huis besig toe drie vriende Lee-Hogan Vrydagaand kom haal het, waarna hulle weg is. Later het net twee [vriende] teruggekom, en ek het [Abrahams] toe gevra waar Lee-Hogan en sy ander vriend is.
“Hulle [die twee vriende wat na Lee-Hogan se huis teruggekeer het] het toe gesê dat Lee-Hogan-hulle na Fairyland toe gestap het.”
Oomblikke later het Lee-Hogan se vriend in ’n haas by sy ouerhuis aangekom om sy gesin in kennis te stel dat daar moeilikheid is en Lee-Hogan aangeval is.
Met Abrahams se aankoms op die toneel in die Fairyland-begraafplaas, waar sy seun in ’n plas bloed gelê het, het hy vir sy seun gesmeek. “Bly by Pa, kom, bly by Pa. Dis Pa se verjaarsdag môre”.
Die volgende oomblik het Abrahams ’n traan by sy seun se wang sien afloop, waarna hy sy laaste asem uitgeblaas en in die warm omhelsing van sy pa se arms gesterf het.
Abrahams verduidelik dat die enkele messteek in sy seun se nek ’n hoofslagaar getref en veroorsaak het dat sy seun doodgebloei het.
Die aanval self het nie in die begraafplaas gebeur nie, maar in een van die strate naby die Fairyland-begraafplaas, vertel Abrahams.
Toe sy seun probeer weghardloop het om vir hulp te soek, het hy ’n bloedspoor agtergelaat wat sy pa tot by die Fairyland-begraafplaas gevolg het.
Daar het sy seun ineengestort voordat hy sy ouerhuis kon haal.
“Lee-Hogan kon nie verder hardloop nie en het in die begraafplaas gaan lê,” verduidelik Abrahams.
Volgens AO Joseph Swartbooi, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, was roof die motief vir die messtekery.
Abrahams het bevestig sy seun se ringe en horlosie is gesteel, maar hy het sy selfoon by die huis gelos.
Volgens sy pa was Lee-Hogan passievol oor krieket en het vir die Achievers-krieketklub in Groenheuwel, Paarl-Oos, gespeel.
“Hy [Lee-Hogan] was ’n baie nederige seun. Ek sal hom altyd so onthou.”
Die Saterdag ná Williams se dood was ’n hartseer dag vir sy pa, wat sy verjaarsdag sonder sy seun moes vier.
“Ek het nie eers gedink dat dit my verjaarsdag was nie. Die huis was vol mense, maar dit was mense wat Lee-Hogan kom groet het.”
’n Kranslegging is die afgelope Dinsdagaand by die Fairyland-begraafplaas gehou waar talle vriende en familielede, onder wie lede van die Achievers-krieketklub en skoolleerders, hul medelye betoon het.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het die voorval bevestig en gesê ’n saak van moord word ondersoek .
Tydens die kranslegging het Lee-Hogan se ouers gesê ’n vermoede bestaan wie hul seun se dood veroorsaak het.
Volgens Seekoei is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Terrence Adonis, skoolhoof van die Paulus Joubert Sekondêre Skool, het gesê die skool sal môre (Vrydag 23 Augustus) ’n troosdiens ter ere van Lee-Hogan sal hou. “Saterdag se interskole was ’n moeilike dag vir die leerders en die onderwysers,” sê Adonis.
“Ek het nou net die hoop uitgespreek aan die skool dat alles oukei sal wees, en toe gebeur dit [die moord op Lee-Hogan].”
Volgens Adonis was ’n sielkundige die afgelope Maandag by die skool om berading aan die leerders te verskaf.
Williams het in die Paarl grootgeword en laat sy ouers, twee susters en ’n broer agter.
Die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het ’n beroep op lede van die publiek gedoen om na vore te kom met inligting oor die moord op hierdie tiener verlede Vrydag in die Paarl.