Die Drakenstein-munisipaliteit se munisipale gebou in die Paarl.Foto: Rasaad Adams


Terwyl die ondersoek voortduur na bewerings van wanadministrasie teen Conrad Poole, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, het nóg ’n karkas intussen op die voorstoep van die vaal gebou beland te midde van nog ’n senior amptenaar wat van onder meer afpersing, magsmisbruik en rassisme beskuldig word.

Paarl Post het verlede week by ’n betroubare bron verneem dat die munisipale raad ’n “dringende vergadering” vir verlede Donderdag (30 November) belê het waarop Poole glo die raad sou toespreek te midde van die aantygings teen die betrokke senior amptenaar, wat aan Paarl Post bekend is.

Opposisiepartye het glo namens die klaer aan die burgemeester se deur gaan klop, waarna Poole glo gesê het dit is ’n kwessie wat op ’n formele geslote vergadering bespreek sal moet word.

Die senior amptenaar word daarvan beskuldig dat hulle op ’n vergadering met die klaer rassistiese uitlatings gemaak het en ook afpersing en magsmisbruik teenoor die klaer gepleeg het.

Poole was volgens die klaer ook teenwoordig op die vergadering, wat glo op 6 September plaasgevind het.

Die vergadering was glo daarop gemik om diensleweringskwessies te bespreek en die betrokke senior amptenaar het die uitnodigings uitgereik.

Paarl Post het verlede week ’n brief bekom wat deur die klaer aan onder meer die burgemeester en munisipale raad gerig is na afloop van die vergadering op 6 September.

In die brief spreek die klaer misnoeë uit oor die wyse waarop die betrokke senior amptenaar hulle toegespreek het.

“Dit voel asof ek hierdie brief in die 1980’s tik. My karakter is aangeval en versmoor in die teenwoordigheid van die uitvoerende burgemeester, lede van die burgemeesterskomitee, ander senior kollegas en junior personeel. Ek is nie die geleentheid gegun om my insae te lewer oor die stand van dienslewering deur die munisipaliteit nie,” lui die brief.

Volgens die klaer het die betrokke senior amptenaar hulle gevra of hul “donnerse ligte” aan is.

Die klaer het toe glo vir die senior amptenaar gesê “ek waardeer nie die wyse waarop daar met my gepraat word nie”, waarop die senior amptenaar na bewering gereageer het met “ek sal so met jou praat, is jou donnerse ligte aan”?

In die brief maak die klaer ook ander bewerings soos dat die senior amptenaar verantwoordelik is vir “rasgebaseerde aanstellings” in uitvoerende poste soos dié van die uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid – ’n pos wat eers onlangs deur die munisipaliteit geskep is.

Volgens die klaer het twee individue van kleur vir dié posisie gekwalifiseer met een van hulle wat daarvoor oorweeg is, maar het die betrokke amptenaar glo hul invloed gebruik om seker te maak ’n wit individu kry die pos.

Betroubare bronne in die raad het intussen aan Paarl Post gesê dat Donderdag se geslote vergadering ’n vlugtige een was.

Die vergadering het blykbaar later as beplan begin nadat DA-raadslede glo besig was om te koukus.

Koos le Roux, die raad se Speaker, het toe glo aangekondig dat daar beslis is die aantygings teen die senior amptenaar is ’n arbeidskwessie en die ondersoek sal nie deur die raad of ’n interne tugkomitee behartig kan word nie.

“Raadslede was so geskok deur hierdie beslissing dat ons nie eens kon dink aan vrae toe die Speaker die vloer daarvoor oopstel nie. Hy het toe kort daarna die vergadering verdaag,” het ’n raadslid op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê.

Volgens dié raadslid sal die opposisie die nodige druk toepas om die betrokke senior amptenaar te vervolg.

“Dit is deel van ons mandaat om senior amptenare aanspreeklik te hou. Ons het ’n oorsig-rol om te vervul asook ’n grondwetlike plig om die inwoners van Drakenstein hier te kom verteenwoordig. Hierdie is ernstige aantygings wat ons nie sommer so kan laat vaar nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article