In die middel van die nag en tydens swaar reënneerslae, het rowers op die aand van 7 Julie die elemente gewaag en ’n huis in Wellington bykans rot-en-kaal besteel, dít ook terwyl die inwoners geslaap het.
Elektroniese toestelle onder meer televisies en ’n skootrekenaar, sowel as ’n perdesaal, ’n horlosie, ’n nuwe slow cooker wat steeds in sy boks was, asook kos en klere, is gesteel.
Asof dít nie genoeg was nie, is die rowers ook weg met ’n gesinsmotor waarin ’n handsak en beursie was, nadat h
ulle die sleutel in die kombuis gekry het.
Dié voorval het plaasgevind net meer as ’n maand nadat ’n huisgesin in Berg-en-Dal, ook in Wellington deur vier gewapende rowers oorval en aangehou is.
Volgens Xillin Meadon, eienaar van die huis in Bergstraat, Wellington-Noord, waar daar ingebreek was, het die inbraak tussen 03:00 en 04:00 plaasgevind, volgens beeldmateriaal op sy bure se sekuriteitskamera’s.
“Op beeldmateriaal kan gesien word hoe ’n motor die heeltyd op en af gery het. Dit het naby ons huis gestop en ’n paar mans het uitgeklim waarna die motor aan gery het,” sê Meadon.
Volgens hom was die motor ’n ligblou Hyundai Atos (ou model) met getinte vensterruite.
Die beeldmateriaal het gewys hoe drie rowers oor die bure se muur spring en daarna toegang tot die Meadon-gesin se motorhuis kry.
Lees ook: Berg-en-Dal gesin beroof, sprake van Klapmus-bende se doen en late
Meadon het gesê dat die grensmure van sy eiendom “baie hoog” is, dus kon hulle nie daar oorspring nie. Daarna het die rowers oor nog ’n muur gespring en toeging tot die motorhuis gekry, waarna hulle by ’n woonstel op die eiendom wat apart van die huis is, ingebreek en so toegang ook tot die hoofhuis gekry.
“Mens moet die uitleg van die huis ken om te weet waar die woonstel is,” het Meadon gesê.
Daarom, voer Meadon aan, is die voorval beplan deur iemand wat reeds op die erf, en spesifiek, in die woonstel was.
Hy het gesê dat die gesin en hul honde nie wakker geword het tydens die voorval nie, dus moes die rowers baie suutjies gewees het in hul strooptog.
Volgens hom het die huis sinkdakke, en omdat dit baie gereën het Sondagoggend, kon dit baie ander geluide verdoof het.
Volgends Meadon kon die rowers moontlik iets in die huis gespuit het vir die familie om nie wakker te word nie, maar dit kon egter nie bewys word nie.
Die gesteelde motor, ’n Mercedes Benz A150, is ’n paar uur ná die inbraak naby die Charleston Hill Sekondêre Skool in Chicago in Paarl-Oos gevind, maar dit sal blyk dat die rowers ook die motor se wiele gesteel het.
Meadon het vertel dat hy ’n oproep ontvang het vanaf ’n inwoner van Paarl-Oos wat hom vertel het dat hy die motor gesien het asook hoe mense vermoedelike gesteelde items daaruit laai.
Meadon het verder gesê dat hy wil bewusmaking saai oor die voorval, en moedig enige iemand aan wat meer weet om hom te kontak. Hy het gesê dat hy en sy familie nog erg geskok en getraumatiser is deur die voorval.
Kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, het die insident bevestig en gese ’n saak van huisbraak en diefstal word ondersoek.