Hugenote Kollege in Wellington het bekendgemaak dat prof. Pieter Duvenage by die kollege aangestel is om nuwe kwalifikasies in die geesteswetenskappe en opvoedkunde te ontwikkel.
Hugenote Kollege fokus daarop om die Afrikaanssprekende gemeenskap in sy voedingsgebied te bedien met nuwe geleenthede in hoër opvoeding.
Duvenage is tans is ook ’n buitengewone professor in filosofie aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) en professorale genoot aan die Centre for British Idealism and Collingwood Studies van die Cardiff-universiteit in die Verenigde Koninkryk. Hy was voorheen dekaan van geesteswetenskappe by Akademia (2019-2024) en professor en hoof van die departement filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (2011-2018).
Duvenage het aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite (Stellenbosch, Pretoria en Port-Elizabeth) studeer en het in 1994 sy doktersgraad, oor die werk van die sosiale filosoof Jürgen Habermas, behaal. Hy het vanaf 1995 aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en twee Australiese universiteite met kampusse in Suid-Afrika in filosofie gedoseer en ook bestuursrolle vervul.
Hy is die skrywer, medeskrywer en redakteur van verskeie boeke en 50 geakkrediteerde artikels in vaktydskrifte en boeke. Hy is tans besig om ’n manuskrip met die titel Praktiese wysheid te voltooi. Hy spesialiseer in politieke en sosiale filosofie binne die velde kritiese teorie, fenomenologie/hermeneutiek en Suid-Afrikaanse intellektuele geskiedenis.
Duvenage is sedert 2003 ’n geakkrediteerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting (NRF), lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (sedert 2004), ’n voormalige president van die Wysgerige Vereniging van Suider-Afrika (PSSA) (2005-2008) en het op die rade en direksies van verskeie instellings gedien. Hy het uitgebreide ervaring op bestuursvlak aan verskeie universiteite en private hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika.