'n Foto van 'n landskap waarin 'n plakkerskamp is.
Die informele nedersetting buite Klapmuts. Foto: Jana Scheepers

Nóg klagtes het ingestroom oor die informele nedersetting buite Klapmuts oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor, ook duidelik sigbaar van die N1 af.

Inwoners beweer die afgelope drie weke se styging in misdaad in dié dorp kan aan die weghol-uitbreiding van die nedersetting, wat reeds meer as 80 inwoners het, toegeskryf word.

Dit blyk dié informele nedersetting het binne sowat ‘n jaar en ‘n half bykans verdubbel, met Klapmuts-inwoners – veral diegene in die landelike gebiede rondom die Protea- en Groenfonteinpad – wat erg deur misdaad geraak word.

Krale waarin vee gehou word is duidelik sigbaar. Foto: Jana Scheepers

Addisionele klagtes

Volgens ‘n ingeligte bron, wat verkies om anoniem te bly, groei die nedersetting “by die dag” en vind inbrake, wat na bewering aan inwoners van dié informele nedersetting toegeskryf word, “uurliks” in die omgewing van die Protea- en Groenfonteinpad asook in die strate van Klapmuts en agter die polisiekantoor naby aan die spoorlyn plaas.

Goedere wat die meeste gesteel word, sluit in skrootmetaal, draadomheinings en dakplate, wat vermoedelik gebruik word om die inwoners se strukture en kampe vir hul diere te bou, het die bron verduidelik.

Ander gesteelde goedere sluit sonpanele, batterye en fietse in.

Die anonieme bron het beweer dié skerp styging in misdaad kan gewis die werk van ‘n sindikaat wees.

Die bron voer aan dat die vermeende sindikaat shopping lists uitstuur na die inwoners van die informele nedersetting wat dit dan steel – nie net in Klapmuts nie, maar ook in omliggende gebiede.

In party gevalle het die diewe onderdeur betonmure gegrawe om toegang tot eiendomme te verkry.

JC Anthony, Klapmuts se wykraadslid, het by ‘n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê die mense wat op die grond bly, kom uit Kraaifontein en Mbekweni en ‘n groot rede vir hul trek na dié informele nedersetting buite Klapmuts is om ‘n plek te kry om te boer.

Klapmuts-inwoners en motoriste sal gereeld ‘n aantal bokke en beeste gewaar wat langs die Ou Paarl-pad, oftewel die R101, met ‘n wagter by hulle, wei.

Volgens Anthony behoort die vee aan sommige van die onwettige besetters, wat gedurende die dag hul diere op die grasveld langs die polisiekantoor laat wei.

Volgens Anthony het die munisipaliteit tans “geen beheer” oor die doen en late van die inwoners van die informele nedersetting nie en dit is “hartseer” vir hom om dit te sien, omdat dit potensiële ontwikkelings in en om Klapmuts kan belemmer.

BKB-gebou word gestroop

Een gebou wat dikwels geteiken en stuk-stuk weggdra word, is ‘n leë skuur op een van BKB se eiendomme, wat langs die Groenfonteinpad geleë is.

Inwoners in die gebied het hul ontevredenheid oor dié spesifieke diefstal op sosiale media op Paarl Post se Facebook-blad asook telefonies uitgespreek.

Die inwoners, insluitend die anonieme bron, het beweer diefstal en ander soortgelyke voorvalle lok mense na dieselfde gebied en inwoners op kleinhoewes en plase in dié gebied moet met een oog oop slaap om diefstal op hul eiendomme te voorkom.

Volgens die anonieme bron word materiaal by die skuur selfs helder oordag gesteel en is die beweerde oortreders “nie eens meer bang” vir die polisie of sekuriteit wat patrolliewerk doen nie.

Die verlate skuur op een van BKB se eiendomme wat langs die Groenfonteinpad in Klapmuts geleë is.

Volgens André du Toit, Pakhouse Brands se hoofbestuurder – een van BKB se sake-afdelings – is BKB bewus van die diefstal en is hy reg om ‘n klagte by die Klapmuts-polisie aan te meld sodra een van die beweerde oortreders op heterdaad betrap word.

Du Toit het verduidelik die stoor word sedert Januarie vanjaar nie gebruik nie, en BKB se korttermynplan is om dié gebou te sloop.

Volgens hom is hierdie vlaag inbrake op BKB se perseel die eerste erge geval “in 15 jaar”.

Erica de Villiers, ‘n woordvoerder van die Klapmuts-plaaswag, sê die plaaswag is bewus van die styging in misdaad en werk saam met die plaaslike polisie om die probleem hok te slaan.

Paarl Post het na die Klapmuts-polisie uitgereik, maar teen druktyd nog geen terugvoer oor die diefstal-probleem ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.