Beeldmateriaal van ’n nabye kamera in Erikastraat in Wellington wys hoe twee beweerde rowers wat by die huis ingebreek het, in die straat loop. Foto: Verskaf


Nóg twee huisgesinne in die Paarl asook Wellington is die afgelope week geteiken deur rowers wat hulle as Draken­steinse munisipale werkers voorgedoen het wat na bewering werk aan die inwoners se kragbokse moes doen.

Daar is baie ooreenkomste met dié twee voorvalle, met albei wat sowat ’n week gelede op 9 September plaasgevind het – ’n paar uur uitmekaar.

Tydens die rooftogte het die rowers ook dieselfde blou oorpakke aangehad.

Die eerste voorval het omstreeks 10:00 in Erikastraat in Wellington plaasge­vind waar twee mans met blou oorpak­ke gesien kan word op beeldmateriaal waar hulle in die straat af stap voordat hulle uit die oog van die kamera verdwyn.

Volgens Stephan Landsberg, ’n Wellington-wykraadslid, loop die mans dan na ’n huis waar die inwoners nie tuis is nie en waar hulle toegang tot die huis verkry het en ’n enkele skootrekenaar gesteel is.

Landsberg verduidelik hoewel dit ’n inbraak was en die rowers nie die huis met toestemming as Drakenstein-munisipale werkers binnegegaan het nie, steeds tot die gevolgtrekking gekom kan word wat hul modus operandi was weens die blou oorpakke wat hulle gedra het.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n woordvoerder van die Wellington-polisie, is die voorval nie aangemeld nie en word dit dus nie ondersoek nie.

Die volgende voorval het twee ure later omstreeks 12:00 in Paarl-sentraal plaasgevind waar drie rowers in blou oorpakke ’n bejaarde geteiken het.

LEES OOK: Paarlse huisgesin helder oordag deur ‘munisipale werkers’ beroof

“Die bejaarde klaer (van iets in die 80) het net by die huis aangekom en nadat hy die huis binnegegaan het, het mans met blou oorpakke hom genader en gesê hulle is van die [Drakenstein]-munisipaliteit en is gestuur om die elektriese boks [meter-oudit] in die huis na te gaan,” sê kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie.

Die drie verdagtes het toe die woning binnegegaan.

Een van die mans het die klaer gegryp terwyl die ander twee deur die huis is op soek na goedere om na bewering te steel.

Dié het met verskeie elektroniese toestelle asook ongeveer R1 000 kontant gevlug, volgens Du Plessis.

Geen beserings is aangemeld nie.

Hierdie twee voorvalle volg kort ná die rooftog met dieselfde modus operandi in Julie vanjaar waar twee rowers ’n huisgesin wat in die Nine Oaks-woonstelblok in Markstraat woon, beroof het.

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit word meter-oudits binne die Drakenstein slegs deur die munisipale diensverskaffer genaamd Ontec Systems (Pty) Ltd, ’n Kaapstad gebaseerde tegnologiemaatskappy, gedoen.

Hierdie diensverskaffers moet die volgende voorlê wanneer hulle toegang tot enige eiendom benodig:

  • ’n ID-kaart wat hul foto, naam en ID-nommer vertoon, asook die amptelike logo’s van die Drakenstein-munisipali­teit en Ontec Systems (Pty) Ltd, en;
  • ’n Brief onderteken deur die stadsbestuurder van die Drakenstein-munisipaliteit, Johan Leibbrandt, wat twee munisipale amptenare, naamlik Riaan Brandt en Charles Fortuin, se name en kontaknommers bevat.
  • Geen ouditeur behoort toegang tot ’n eiendom verleen te word indien bogenoemde nie verskaf kan word nie.

“Ons ouditeure moet dwarsdeur die voorafbetaaldemeter- ouditproses hierdie inligting aanbied voordat hulle toegang tot eiendomme verkry, en die munisipaliteit het wyd en gereeld oor hierdie proses met die gemeenskap gekommunikeer,” luidens kommunikasie van die Drakenstein-munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.