Die Franschhoek-polisie het inwoners gevra om waaksaam te wees en in groepe te beweeg wanneer hulle in die Franschhoekpas gaan stap, draf of fietsry. Foto: Argief


Die Franschhoek-polisie het eksklusief aan Paarl Post bevestig dat hulle in oorleg met die Valke op die spoor is van verdagtes wat ’n soortgelyke modus operandi gebruik as dié wat twee studente op 15 Junie in die Franschhoekpas ontvoer en hul families afgepers het om lospryse te betaal.

Hoewel die polisie in dié stadium nie veel oor die ondersoek kon sê nie, het hulle bevestig dat die verdagtes se aktiwiteite aan moontlike bedrog en afpersing grens.

Die polisie kon ook nie onthul presies waar in Franschhoek die jongste voorval plaasgevind het nie, maar het wel ’n beroep op die publiek gedoen om oor die algemeen waaksaam te wees wanneer hulle gebiede soos die Franschhoekpas betree.

Lt.kol. Frederick Rossouw het vandeesweek aan Paarl Post gesê weens die Valke se betrokkenheid word die ondersoek as sensitief beskou en dus kan die polisie in dié stadium nie veel onthul nie.

“Inwoners moet oor die algemeen meer waaksaam wees wanneer hulle in openbare plekke beweeg. Bly weg van stil parkeerterreine en beweeg in groepe wanneer jy gaan fietsry of bergklim. Probeer om nie alleen te beweeg in hierdie gebiede nie.”

Hy het bevestig dat aanvullende hulpbronne ontplooi en ingespan is na afloop van Junie se voorvalle.

“Ons doen gereeld patrollies in die Franschhoekpas in samewerking met wetstoepassers van die Stellenbosch-munisipaliteit.

“Ons vra egter ook die hulp van die publiek om verdagte aktiwiteite en voertuie aan te meld. Neem foto’s daarvan indien moontlik en bring dit onder die polisie se aandag.”

Paarl Post het onlangs berig oor twee eerstejaarstudente van die Universiteit Stellenbosch wat op 15 Junie in die pas ontvoer en in Grabouw vrygelaat is nadat hul families lospryse moes betaal.

Twee mans met hamers het na bewering uit ’n wit Toyota Quantum-bussie gespring terwyl die studente by ’n uitkykpunt in hul voertuig gesit het.

Die studente is gedwing om op die agtersitplek te gaan sit terwyl die een man agter die stuurwiel ingeklim en die ander een, wat die hele tyd ’n vuurwapen op hulle gerig het, by die voorste passasierskant ingeklim het.

Albei studente se gesinne moes lospryse van tussen R50 000 en R200 000 vir hul vrylating betaal.

’n 32-jarige man is Dinsdag 18 Junie deur die provinsiale multidissiplinêre taakspan wat ontvoerings ondersoek, in samewerking met eksterne vennote aangekeer.

Hy het op 20 Junie die eerste keer op aanklagte van ontvoering, afpersing, gewapende roof en geldwassery in die Caledon-landdroshof verskyn en sou kort daarna om borgtog aansoek doen.

Rossouw het intussen gesê die polisie het geen nuwe inligting oor dié voorval en of nog iemand in hegtenis geneem is nie. In dieselfde week (15 Junie) is ’n vroulike fietsryer ook deur mense in ’n Quantum-bussie ontvoer en in Grabouw vrygelaat nadat sy ’n losprys van R50 000 moes opdok.

You need to be Logged In to leave a comment.