Petronella Strauss (18) en Iske Conradie Foto: Verskaf/ Iske Conradie

DRAKENSTEIN – Twee Drakenstein-inwoners het besluit om aan die globale NoSo-November-veldtog deel te neem en vir 30 dae hul sosialemediaverbruik te verminder of heeltemal uit te skakel.

Iske Conradie van die Paarl en Petronella Strauss (18) van Wellington is twee niggies wat hierdie uitdaging saam en vir ‘n tweede keer aanpak nadat hulle dit reeds verlede jaar gedoen het.

Die NoSo-November-veldtog moedig deelnemers aan om hul gebruik van sosiale media in November te verminder of geheel en al te staak, met die doel om tyd meer doelbewus aan te wend en van sosiale media en die negatiewe invloed wat dit kan inhou, afstand te doen.

Die veldtog is volgens Conradie deur die Noord-Amerikaanse Maddie Freeman van stapel gestuur. Sy het vanjaar op Forbes se onder 30-lys vir haar betekenisvolle bydrae tot onderwys en haar sosiale impak verskyn.

Conradie is tydens die voltooiing van haar meestersgraad in 2022 in eko-sosiale ontwerp in Italië aan Freeman bekend- gestel. Die studie het ondersoek hoe Generasie Z (Gen Z) sosiale media ervaar en gebruik en hoe hulle self oplossings kan ontwerp om gesonder en meer menslike digitale gewoontes te bevorder.

Conradie se meesterstesis, Screenage Experiences, het haar onderneming, Design My Screen Time, geïnspireër. Sy kweek bewustheid by gr. 6- tot gr. 12- leerders en hul ouers oor die verslawende ontwerp van sosialemediatoepassings “deur kreatiewe ontwerpklasse in plaas van skermtyd-preke (wat nie goed werk nie), te gebruik.”

Volgens Strauss neem sy weer aan die veldtog deel om haar aandag ten volle op haar matriekeindeksamen wat voorlê, toe te spits.

Sy gaan wegdoen met onder meer Netflix, Instagram, TikTok, YouTube en Facebook, sowel as aanlyn inkopieplatforms nadat sy tydens verlede jaar se NoSo-November-veldtog besef het hoeveel tyd sy hieraan bestee terwyl sy iets meer produktiefs sou kon doen.

Conradie sê sy doen dit om “rustigheid in [haar] kop te kry” en om te fokus en teenwoordig te wees op iets buiten wat op die internet aangaan. Sy sien daarna uit om meer te lees, meer werk gedoen te kry, meer kreatief te wees en “in die oomblik te leef”.

Volgens Strauss het sy sedert verlede jaar se veldtog steeds nie die YouTube- toep op haar slimfoon nie en moet via Google toegang verkry. Sy het ook nie Netflix nie, wat haar dwing om dit op die televisie in haar ouerhuis te gaan kyk. Sulke klein veranderings maak dit moeiliker vir haar om op sosiale media te wees en sy verkies dit so.

Vir hierdie 30 dae gaan Conradie en Strauss verskeie sosialemediatoepassings van hul selfone verwyder – en nêrens oopmaak totdat November verby is nie.

Dié twee moedig ander ook aan om dieselfde te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.