Nepotisme, soos in enige woordeboek gedefinieer word, is die voorkeur om werk aan familielede, vriende of kennisse in die openbare sektor te verleen. Die meeste van ons is skuldig hieraan, maar dit is veral volop in ons eie Drakenstein-munisipaliteit.
Wat hartseer is, is die feit dat talle mense wat by die munisipaliteit aangestel word nie die nodige kwalifikasies en ervaring het om die werk baas te raak nie, en dis hoekom die munisipaliteit deesdae soos ’n sirkus lyk.
Die werkloosheidsyfer klim die hoogte in; mense – oud en jonk – sit met grade by die huis op soek na werk, wat hulle nie gaan kry nie, want die werk waarvoor hulle geleer het, is aan byvoorbeeld die niggie van ABC, wat by die munisipaliteit werk, gegee.
Ek wil nie eens noem hoeveel mense wat reeds ’n werk het, kom by die munisipaliteit in net omdat hulle mense in die munisipaliteit ken nie. Hulle adverteer poste en hordes mense stuur hul CV’s in, net vir daardie CV om in die vullisdrom te beland, want daardie werk is klaar aan XYZ se seun belowe.
Soms gebruik mense hul laaste R5 om dokumente af te rol, net vir die selfsugtige vrate om die aansoeker se CV in die asblik te gooi.
Hoeveel familielede werk by die munisipaliteit alleen? Sommige is net daar onder ander vanne en adresse. Nepotisme bly nepotisme en moet uitgeroei word. Gee ’n slag mense kans wat wel die werk kan doen en hou op om die poste met nepotism babies te vul.

