Newtons seëvier in bakgatstryd

Newtons het Saterdag weer eens gewys waarom hy die Wit-Sentraal-kampioen vir 2024 is toe hy met ’n omgekrap­te Van Rhynsdorp Eagles-span in die Boland Top-12-kompeti­sie afgereken het. Newtons moes hierdie wedstryd wen om moontlik vir die halfeind­st


Newtons het Saterdag weer eens gewys waarom hy die Wit-Sentraal-kampioen vir 2024 is toe hy met ’n omgekrap­te Van Rhynsdorp Eagles-span in die Boland Top-12-kompeti­sie afgereken het. Newtons moes hierdie wedstryd wen om moontlik vir die halfeind­stryd te kwalifiseer.

Die losskakel Wilfred Bowers het Saterdag gewis sy skopskoene aangehad en het die skare vergas met hoëgehalte stelskopwerk. Hy het ook die eerste drie gedruk nadat hy soos ’n warm mes deur sagte botter gesny het om agter die pale te gaan druk.

Hierna het die buksie Millon Bezuidenhout (skrumskakel) steelkant-om gebreek nadat sy voorspelers hul gesag met hul fasespel afgedwing het (telling 14-10). Die alomteenwoordige Colin April (nr. 8) het sy klas gewys nadat hy ’n paar spelers moes afstamp op pad doellyn toe.

Die woelwaterslot Shaden Pietersen, wat ’n doring in die vlees van die besoekers was, het net voor rustyd ook agter die doellyn gaan kuier nadat die agterlyn ’n paar bresse geslaan het.

Die manne het gaan water drink met Newton Bombelas gemaklik voor met 28-10.

’n Skielike insinking in die tweede helfte het egter veroorsaak dat die Eagles skielik die telling ná ’n goeie terugvegpoging 28-23 gemaak het.

Die Bombelas moes weer diep delf nadat hul bakgatsenter Shane-Cole Williams die verdediging aan die slaap betrap het en met flink voete en ’n individuele dartellopie agter die pale gaan draai het.

Kort hierna het die slinkse Jovan Cookson (skrumskakel) sy klas gewys met ’n skitter- drie uit gebroke spel. Die onderskepkoning en ook speler van die wedstryd, Ryan Jordaan (heelagter), het hierna ’n aanval van Eagles geneutraliseer toew hy die bal perfek onderskep en in die hoekie afgerond het.

Voorlangs het Shaden Pietersen (slot), Curran van Diemen (stut) en Nico Nel (haker) hul harte uitgespeel en behoorlik gewoel in die vastelos. Hulle het soos trojane teen die groot pak voorspelers van Eagles verdedig.

Agterlangs het die vleuel Jaden van Wyk die skare met sy pypkan-lopies op hul voete gehad. Die eindtelling was 47-33 in Newtons se guns.

Hierdie naweek pak die Bombelas die Weskus- kampioen, Vredenburg, in wat beskou word as ’n kwarteind­rondewedstryd. ’n Volgepakte Bombela-stadion word vir hierdie belangrike “maak-of-breek-”wedstryd verwag en toeskouers word gevra om hul plekke vroeg in te neem.

Hier kom groot drama.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.