Newton-rugbyklub het vandeesmaand sy president die laaste keer gegroet.
Joseph Demas (74) is Saterdag 11 Mei in die Paarl-hospitaal dood en is die Saterdag daarna in Wellington begrawe.
“Demas het as speler alles vir Bombela gegee. Dit was ’n riem onder die hart om te sien hoe spelers van verskeie klubs en oudspelers die laaste eer aan hom betoon het,” vertel Patrick Ross, ’n vriend van Demas.
Demas was van 2005 tot sy dood die klub se president.
Ross sê Demas het reeds as kind by Newtons betrokke geraak en wou destyds – 60 jaar gelede – flank speel.
“Hy het egter sy kans as stut gekry. Hy het ons help maak wat ons vandag is. Hy was ook iemand wat baie respek vir ouer mense gehad het,” sê Ross.
Demas is in die 1960’s as kaptein van Newtons se eerste span aangewys en kort daarna het hy ’n plek in die Wellington-uniespan verwerf.
Newtons het in Demas se loopbaan vier keer die Sanlam-trofee en vier keer die liga-trofee gewen. “Die mooiste en hardste wedstryde was [teen] Roslins, Pirates, Newclares en Westerlies. Ons het baie baklei of Joseph het die game afgeslaan, maar daarna was ons best buddies. Ons het in 1989 die eerste keer aan die Citiesse top-agt deelgeneem. As speler onthou ek hoe hy die wêreld saam met Johan Williams aan die brand gespeel het.
“Hy het baie uit sy eie sak gedoen om die rugbyveld op te knap; as jy Saterdae by die veld kom, het hy jou by die hek gegroet. En as jy nie betaal nie, vergeet maar van inkom – en moenie teëpraat nie. Hy was ’n man met ’n vurige humeur en baie het dit ontgeld,” onthou Ross.
“Dit is selde dat ’n speler so uitstyg om beheer van sy geliefde klub oor te neem. Hy het vir Newtons geleef en sy alles gegee met sy familie en al, en ons mag nie sy nalatenskap vergeet nie.”
Demas word oorleef deur sy vrou, Fransiena, sy dogters Jo-Anne en Morhegan Demas, Chantal Bailey en Jesmine Solomons en sy seun, Glenton.