Newtons se vuurvreter agtsetman Lester (Brock) Phillips is hier oppad om sy drie te druk.Foto:


Die Newton-Bombelas is op ’n missie en het hierdie naweek weer eens beklemtoon waarom hulle die topposisie in Witzenberg-sentraal-streek van die Boland-Grootuitdaagbeker-kompetisie beklee toe hulle met ’n omgekrapte Hamlets-span afgereken het.

Newton het goed weggespring met sy haker, Nico Nel, wat uit ’n lynstaan oorgebars het vir ’n drie nadat die agtal kliphard gewoel het. Wilfred Bowers (losskakel) het hierna ’n strafskop oorgeklits en die telling was skielik 8-0.

Hamlets het egter teruggeslaan met ’n pragdrie en die telling was 8-7. Hierna het die vuurvreter-agtsteman, Lester (Brock) Phillips, met brute krag sy teenstanders ontwortel en deurgebars vir ’n drie.

Die manne kon gaan water drink met die telling 15-8.

In die tweede helfte het die windhond-vleuel Chadley Williams oorgeskuif vir ’n drie nadat hy die opponente met sy dartel-lopie in die lug laat gryp het. Hamlet het met ’n blitzkrieg vorendag gekom en met hardlooprugby geskitter en skielik die telling 26-22 in sy guns gemaak.

Newton moes diep delf en het in die laaste beweging van die wedstryd oorgegaan vir ’n skitterdrie deur sy bakgat senter Shane-Cole Williams.

Die skare het gekraai van lekkerte en Hamlets moes met die stert tussen die bene huis toe gaan met die eindtelling 29-26. Hiermee het die Bombelas ook hul plek in die top-12-kompetisie, wat later vandees-maand begin, bespreek.

Voorlangs het Riaan William (flank), Dane Small (stut) en Lester Phillips (nr. 8) Hamlets behoorlik laat les opsê met hul kragspel.

Newton Bombelas speel Saterdag teen Temperance van Gouda.

Toeskouers word gevra om die ligakampioene in groot getalle in hul blou klere te kom ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.