Newton het Saterdag sy beste voetjie voorgesit deur behoorlik Wolseley se neus in die grond te vryf en gewys dat hierdie jongspan nog sommer baie harte gaan verbly met hul opwindende manier van speel.
Hulle het van meet af die pas aangegee en vir Wolseley vir lang tye onder druk geplaas.
Newton het eerste bloed geruik toe Devrulin Abrahams (vleuel) met blote spoed deurgebreek het om Newton te laat voorloop.
Net hierna het Keaton Booysen (vleuel) ook sy spoed uitgestal en met pure finesse sy opponent in die lug laat gryp het. Devrulin het weer agter die doellyn gaan kuier en die manne kon gaan water drink op 18-12.
Met die aanvang van die tweede helfte was Newton sommer onmiddellik in die hoogste rat en het die bal begin hanteer soos ’n warm patat en met indrukwekkende hardlooplyne die toeskouers laat kraai van lekkerte.
Eers het Jason Baardman (slot) gaan druk nadat byna die hele span hanteer het. Newton was veral indrukwekkend in die vaste fasette en het in die skrums vir Wolseley harde bene laat kou. Onder leiding van veral Denzil Adams (stut) het hulle die manne omtrent laat kreun met hul klipharde skrumwerk.
In die lynstane het kaptain Hyco Jacobs soos die Eiffeltoring uitgestaan en hy het sommer heelwat balle gesteel in die lynstane.
Hier was veral John Jantjies (haker) en Tyrone Baron absoluut manjifiek met hul berekende breekslae.
Dit het die gevaarlike agterlyn op die voorvoet gesit en gemaak dat sy spoedvraat Keaton Booysen ’n driekuns kon aanteken.
Die laaste drie was uit die boonste gestoeltes nadat hy vyf verdedigers laat stilstaan het. Newton wen oortuigend met 51-27.
Newton speel die naweek sy laaste ligawedstryd tuis teen Tulbagh en toeskouers word gevra om hul sitplekke vroeg in te neem.