'n Drakenstein- munisipale afvaardiging vergader onlangs (Vrydag 31 Oktober) met Newton-inwoners oor planne om die bloekombome by die woonbuurt se ingang af te kap. Foto: Rasaad Adams
‘n Drakenstein- munisipale afvaardiging vergader onlangs (Vrydag 31 Oktober) met Newton-inwoners oor planne om die bloekombome by die woonbuurt se ingang af te kap. Foto: Rasaad Adams

Newton is ‘n sportgedrewe gemeenskap en daarom moet sport voorkeur geniet wanneer bome vir toekomstige ontwikkeling afgekap word.

Dít was Donderdag (6 November) die sentiment van inwoners op ‘n gemeenskapsvergadering in Newton, waartydens die munisipaliteit se planne om die bloekombome by dié woonbuurt se ingang op die Bo-Dal-pad af te kap, bespreek is.

Op die vergadering is eenparig besluit dat die uitheemse bome vir eers sal bly staan totdat voorstelle en planne op papier geplaas word oor wat met die grond gaan gebeur.

Paarl Post het vroeër berig inwoners is ontkant betrap en het met gemengde gevoelens op die munisipaliteit se skielike aankondiging dat hy die bome wil verwyder, gereageer. Die nabygeleë Diemersfontein-wynlandgoed het volgens die munisipaliteit ‘n aanbod gemaak om die bome sonder koste af te kap.

LEES: Drakenstein se planne om bloekombome in Newton af te kap ontlok gemengde reaksie

Inwoners het op ‘n gemeenskapsvergadering op 31 Oktober vir nog ‘n vergadering gevra – wat verlede Donderdag plaasgevind het – sodat die groter gemeenskap ook hul insae oor die bome se verwydering en die toekomstige ontwikkeling van die grond kan lewer.

Verlede week se vergadering is deur Aidan Stowman, Newton se wyksraads- lid, en Koos le Roux, die Speaker van die Drakenstein-raad, bygewoon.

Toe die munisipaliteit nie inwoners se vrae kon beantwoord oor watter moontlike ontwikkeling in die toekoms op die grond gaan plaasvind nie, is beslis dat die munisipale stadsbeplanners ‘n studie – wat ‘n omgewingsimpakstudie insluit – sal uitvoer om die moontlikheid van toekomstige ontwikkelings te bepaal.

Dié planne sal na verwagting in die nabye toekoms aan die inwoners voorgelê word.

“Ek dink ons almal stem vir nou saam dat die bome moet bly,” het Stowman op die vergadering gesê.

‘n Inwoner het op haar beurt gesê as die bome verwyder word, moet die grond vir sportdoeleindes aangewend word.

“Newton is ‘n sportgedrewe gemeenskap. Hierdie is ‘n gulde geleentheid om deur middel van sport in die ontwikkeling van ons jeug te belê.

“Sport moet dus voorkeur kry bo enige ander ontwikkeling. Hier is klaar niks waarmee ons jongmense hulself kan besig hou nie,” het die inwoner gesê.

Die munisipaliteit het 31 Oktober se vergadering besluit om die bome te verwyder, aan veiligheid toegeskryf. Stowman het toe verwys na ‘n voorval op 7 April toe ‘n veiligheidswag dood is toe ‘n bloekomboom op hom geval het terwyl hy besig was om patrolleerwerk by Diemersfontein te doen.

David Delaney, die Drakenstein-munisipaliteit se senior bestuurder vir ruimtelike beplanning en omgewingsbestuur, het op 31 Oktober gesê die grond is vir gemengde gebruik geoormerk.

“Gemengde gebruik beteken dit kan vir behuising of vir sake wees. Dit kan egter net nie nywerheid wees nie. Die grond het dus potensiaal en wat daarmee in die langtermyn gaan gebeur, sal aan openbare deelname onderworpe wees. In die korttermyn het die raad ‘n versoek gekry van die Diemersfontein-eienaar om die bome te verwyder en dit is wat ons graag vandag hier wil bespreek,” het Delaney gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article