Collin April met die bal op ’n stormlopie, met die gewese Boland Kavalier, Millroy Isaacs (flank), wat gereed maak om hom te probeer stuit.


Newton Bombelas, die Wit Sentraal-kampioen, het Saterdag met absolute vasberadenheid met ’n vasbeslote Abbotsdale, die Swartland-kampioen, afgereken.

Die wedstryd het teen ’n geweldige pas begin, met twee skitterdrieë deur Max van Louw (senter) wat pragtig deur sy sentermaat, Shane-Cole Williams, weggestuur is. Kort ná die afskop het die giftige Keaton Booysen (vleuel) agter die pale gaan kuier, nadat sy kaptein mooi gebreek en hom in besit gestel het. Newton was skielik 12-0 voor, maar Abbotsdale het met twee drieë teruggeslaan.

Hierna het Newton weer die voortou geneem nadat sy generaal-kaptein met brute krag oorgebars het. Die manne het gaan water drink met die telling op 19 elk.

Abbotsdale het die voortou onmiddellik ná rustyd met ’n strafskop geneem.

Die Bombelas het egter met ’n terugvegpoging begin en sy vuurvreter-haker, Nico Nel, het met drie manne op sy rug naby die pale gaan druk. Newton het aanval op aanval afgevuur, met Abbotsdale wat vir ’n vale moes keer. Die slinkse Ryan Jordaan (heelagter) het steelkant gebreek en die windhond Jaden van Wyk oorgestuur om af te rond en die telling het na 33-22 in Bombelas se guns aangeskuif.

Abbotsdale het skielik sy tweede asem gekry en twee blitsige drieë gedruk om die voortou met 34-33 te neem – met drie minute speeltyd oor.

Abbotsdale wou Newton met sy gevaarlike agterlyn onder druk plaas, maar die alomteenwoordige Ryan Jordaan het die bal onderskep en 40 m vir die wendrie genael. Die eindtelling was 40-34 vir die Newton Bombelas.

Voorlangs het Dane Small (stut), Collin April (nr. 8) en Lance Ruthford (flank) ’n barshou gespeel en hul teenstanders met hul stormramlopies aanmekaar op die agtervoet gehou.

Agterlangs het die maestro-skakelpaar Jovan Cookson en Wilfred Bowers behoorlik gekook. Shane-Cole Williams (senter) is welverdiend as Speler van die wedstryd aangewys.. Saterdag speel Newton Bombelas tuis teen Van Rhynsdorp Eagles en die toeskouers word gevra om vroeg hulle sitplekke in te neem, want hier kom hope aksie.

You need to be Logged In to leave a comment.