Newton maak nou weer die pap dik aan

Newton (Bombelas) het Saterdag weer eens bewys dat hy moeilik gestuit gaan word in die res van die seisoen toe hulle die appelboere van Ceres met 52-31 verrinneweer het.


Newton (Bombelas) het Saterdag weer eens bewys dat hy moeilik gestuit gaan word in die res van die seisoen toe hulle die appelboere van Ceres met 52-31 verrinneweer het.

Newton het sommer van die begin af die pap dik aangemaak en Delicious (Ceres) met klipharde voorspelerspel gepeper. Hier het veral Lester Phillips (flank), Dane Small (vasskop) en Austen de Bruyn (slot) Delicious se gal behoorlik gewerk en meters veld gewen met hul stormramlopies wat duidelik die teenstanders ontsenu het.

Delicious het eerste bloed geruik met ’n onderskepdrie en die telling was skielik 7-0 nadat Newton al die aanvalswerk gedoen het.

Hierna was dit ’n blitzkrieg drieë deur Maxwill van Louw (senter), Leonard Jacobs (senter), Keaton Booysen (vleuel) en Collin April (agtsteman) wat ’n barshou gespeel en gewys het waarom hy in die Grootuitdaag-kompetisie so hoog aangeslaan word.

Die manne kon gaan water drink met Newton 26-17 voor.

Die tweede helfte het met groot drama begin toe die vlakhaas Keaton Booysen (vleuel) byna 60 meter moes nael om ’n rollende bal op te pik en ’n uitstekende drie te druk. Hierna het die Newton- lostrio met hul kaptein, Colin April aan die voorpunt, behoorlik die wedstryd oorheers met hul hardlooplyne en hul aggressie in die verdediging en het Delicious behoorlik van die veld gespeel.

Lester Phillips is beloon met ’n kragdrie nadat hy ’n pad oopgeploeg het doellyn toe; die flank Riaan Williams het kort hierna sy finesse gewys en met flair soos ’n warm mes deur sagte botter die verdediging oopgevlek en agter die doellyn gaan kuier.

Die jong slot Niccarlo August het met die laaste beweging van die wedstryd oorgegaan vir sy debuut-drie.

Die tweede span en ligavoorlopers moes ongelukkig die knie buig (29-12) en die derde span het 23-12 gewen. Hierdie naweek speel Newton, die ligavoorlopers, teen ’n omgekrapte Hamlets en ’n baie spannende wegwedstryd word verwag. . Newton-ondersteuners word gevra om in groot getalle op te ruk.

You need to be Logged In to leave a comment.