Newton het sy onoorwonne status behou deur ’n omgekrapte Hillcrest-rugbyklub in ’n klipharde derbystryd op Bombela-park met die kous oor die kop huis toe te stuur.

Al twee spanne was nog voor die wedstryd onoorwonne. Die wedstryd het voor ’n volgepakte stadion teen ’n baie hoë tempo begin en die skare is nie teleurgestel met die gehalte-rugby wat opgelewer is nie.

Hillcrest het eerste bloed geruik met twee kragdrieë. Sy agttal het die Newton-voorspelers in die grond gedryf en met aggressiewe inklimspel oorgebars vir ’n voorsprong van 12-0.

Newton moes diep delf om terug te kom in die wedstryd en het met stewige skrumwerk sy weg terug na die aksie oopgeveg.

Die ommeswaai het diep in Newton se kwartgebied begin toe sy glibberige heelagter, Ryan “Katjies” Jordaan, met ’n teenaanval begin en die vlakhaas Keaton Booysen (vleuel) in besit gestel het, wat op sy beurt vir die hele Hillcrest hakskene gewys het om in die hoekie te gaan afrond. Kort hierna het die Newton-voorspelers begin oorheers en Hillcrest behoorlik in die skrums laat kreun. Austen de Bruyn (slot) het met brute krag oorgebars vir ’n drie. Die altyd teenwoordige bul, die senter Shane-Cole Williams, het kort hierna sy klas gewys en ook agter die doellyn gaan kuier.

Die spanne het gaan water drink met Newton met 15-12 net-net voor.

Hillcrest het onmiddellik sy bomb squad opgestuur, maar dit was tevergeefs. Ryan Jordaan (heelagter) het sy teenstanders gepypkan en met die grootste finesse agter die doellyn gaan kuier, met die telling nou skielik 22-12.

Hillcrest was nou desperaat om punte aan te teken, maar kon nie by Newton se tempo hou nie.

Die drie van die dag was toe een van die Hillcrest-aanvallers Jayden van Wyk (vleuel) wou systap. Van Wyk het egter die bal uit sy opponent se hande gegaps en sy kaptein, Collin April (losskakel), in besit gestel om ’n drie af te rond. Dit het die Bombela-ondersteuners behoorlik van lekkerte laat kraai, terwyl die Hillcrest-ondersteuners vrede moes maak met die uitslag van 29-19.

. Ander uitslae:

2de spanne: Hillcrest 8-3 Newton, 3de spanne: Hillcrest 12-7 Newton.

Saterdag speel Newton (Bombelas) weg teen ’n erg omgekrapte Delicious (Ceres), nadat Delicious onlangs weer vasgeval het.

Bombela-ondersteuners word gevra om in getalle op te ruk om Ceres blou te gaan verf.

You need to be Logged In to leave a comment.