Newton het in ’n spannende en opwindende wedstryd in ’n volgepakte Bombela Park met Wit-Sentraal se ligavoorloper, Roses, afgereken.
Roses het met al sy kavaliers en sy Bolandkaptein die stryd aangesê en gewys dat hy nie die wedstryd ligtelik opgeneem het nie.
Roses het teen ’n stewige pas begin, maar Newton se rotsvaste verdediging deur Matthew Andrews (slot), Riaan Williams (flank), Gary Willams (slot) en Enrico Claasen (flank) het Roses gefrustreer en gedwing om hanteerfoute te maak.
Newton het eerste punte aangeteken, met sy kaptein, Colin April, wat ’n driekuns behaal het. Hy moes gewis ’n paar regmerkies by die Boland-afrigter gekry het. Sy eerste drie was ’n juweel nadat hy 60 meter hiervoor moes nael.
Roses het onmiddellik teruggeslaan met ’n drie deur Easton Arendse (provinsiale vleuel) en die manne kon gaan water drink op 5-5.
Ná rustyd en ná ’n rolmaal het Roses se haker, John Jantjies, agter die pale gaan druk.
Newton se Wilfred Bowers het hierop met ’n strafskop geantwoord.
April het ná ’n lynstaan vier verdedigers platgehardloop en vir sy tweede drie oorgegaan. Kort hierna het Newton weer aangeval en April kon oorval vir sy derde drie.
Newton het Roses se ritme met klipharde lakwerk en aggressiewe inklimspel bly breek. Met die laaste beweging van die wedstryd is Roses by die kantlyn uitgeboender en Newton kon feesvier met 21-18.
. Ander uitslae:2de span: Newton 18-12 Roses; 3de span; Newton 6-5 Roses.
Hierdie naweek pak Newton die nuwe ligavoorloper, Hillcrest United, in nog ’n Wellington-derby.
Newton vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar. Saterdag is die jaarlikse Pienk vir kanker-dag en toeskouers word aangemoedig om pienk aan te trek as bewusmaking en ondersteuning van kanker-organisasies.
Die hekke open reeds om 11:00.