Die Newton Bombelas het Saterdag in ’n opwindende dog senutergende wedstryd teen Worcester-Villagers voor ’n byna volgepakte Boland-stadion vasgeval. Hierdie wedstryd was die eerste van die Top-12-toernooi wat oor die volgende paar weke strek.
Worcester-Villagers het Newton vroeg in die wedstryd onder druk geplaas met aggressiewe voorspelerspel en by tye onwettige skrumstrategie. Newton het egter eerste bloed geruik met twee strafskoppe deur sy losskakel, Ryan Jordaan, en het skielik met 6-0 voorgeloop. Villagers het egter teruggeslaan met ’n opportunistiese drie nadat die Newton-agterspelers nie ’n hoë bal kon beheer nie. Hierna het Villagers ’n strafdrie gekry en was skielik 14-6 voor. Net voor rustyd het hulle weer agter die pale gaan kuier en hulle kon gaan rustyd hou met ’n gerieflike voorsprong van 19-6.
Newtons moes diep delf om die agterstand uit te wis, maar hul terugvegpoging het op dramatiese wyse begin nadat hulle met ’n geelkaart gestraf is en noodgedwonge met 14 man moes speel. Hulle het egter almal verras en ’n blitzkrieg van drieë gedruk.
Eers het die skrumskakel, Chad Williams, vinnig getik en oorgeduik vir ’n drie en daarna het Maxwell van Louw (senter) afgerond nadat Shane Cole (senter) pragtig gebreek het. Hierna het Curran van Diemen (stut) met brute krag oor die doellyn gebars en die Newton-skare het gekraai van lekkerte.
Die telling was skielik 23-19 in die Bombelas se guns, maar toe volg die drama.
Villagers het teruggeslaan met ’n drie in die hoekie en die wipplankstryd het nou ’n naelbytstryd geword.
Newton het aanval ná aanval begin en Villagers moes keer vir ’n vale. Newton het by twee geleenthede oor die doellyn gegaan, maar die skeidsregter het nie die drieë toegeken nie. Newton het egter nie gaan lê nie en het hul teenstanders in die grond in geboor met brute kragspel en finesse deur sy bakgat agterspelers.
Die Villagers-damwal moes breek nadat die agterlyn pragtig hanteer het en die spoedvraat Keaton Booysen (vleuel) pragtig afgerond het met ’n drie in die hoekie. Wilfred Bowers (losskakel) kon egter nie met die doelskop slaag nie en Worcester-Villagers het die wedstryd 29-28 gewen.
Voorlangs het die kaptein, Collin April, Riaan Williams (flank) en Shaden Pietersen ’n barshou gespeel en die groot skare met klipharde inklimspel op hul voete gehad.
Saterdag speel die Newton Bombelas weg teen Caledon op Canola-park in Caldon, wat op verrassende wyse met Vredenburg afgereken het.
’n Titaniese stryd word verwag.