Die tydelike sluiting van New Orleans Primêr het niks met die taxi-staking te doen nie, maar dit gaan oor veiligheidskwessies oor die skoolgebou self.

Die waarnemende skoolhoof het ouers Vrydag (4 Augustus) in ’n brief in kennis gestel die skool sal van Maandag (7 Augustus) tot Woensdag (9 Augustus) gesluit wees omdat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die skool onveilig verklaar het.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het by navraag gesê die departement is besig om veiligheidskwessies rakende die dak en ondersteunende struktuur te ondersoek.

“Daar is aanbeveel dat alternatiewe akkommodasie [vir die leerders by ander skole] gesoek word. Verdere assesserings sal uitgevoer word wat die pad vorentoe sal bepaal.”

Volgens Hammond is reëlings getref dat die leerders van New Orleans tydelik onderrig by ander skole soos Amstelhof Primêr, Orleansvale Primêr en Nieuwedrift Primêr sal ontvang. Onderwysers is ook aangesê om by ’n ander skool aan te meld.

“Leerdervervoer word gereël. Voedselvoorraad van die Skoolvoedingsprogram sal na die skole [wat die leerders akkommodeer] oorgedra word om te verseker dat leerders van hul voorgeskrewe maaltye voorsien word.”

Teen druktyd kon dit nie bevestig word of die skoolgebou beveilig is vir die leerders van New Orleans om vandag terug te keer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.