Leerders van New Orleans Primêr sal voortgaan om vir tyd en wyl onderrig by ander nabygeleë skole te ontvang nadat die skoolgebou onlangs deur die Wes-Kaapse Onderwys­departement (WKOD) onveilig verklaar is.

Die departement het verlede week bevestig dat veiligheidskwessies aangaande die skoolgebou bestaan. Dit het te doen met die dak en ondersteunende struktuur.

Reynold Williams, die waarnemende skoolhoof van New Orleans Primêr, het ouers op 4 Augustus skriftelik ingelig dat die skool van 7 Augustus tot 9 Augustus gesluit sal wees.

Williams het hierdie week aan Paarl Post gesê ’n bevestigde datum is nog nie vasgestel vir wanneer die leerders weer na hul eie skool sal kan terugkeer nie. Hy het egter verdere navrae oor wat presies fout is en hoeveel geboue op die skool se perseel geraak word, na die departement verwys.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, sê die ondersoek na die veiligheid van die skoolgebou en dak gaan voort.

“Die assessering sal bepaal hoeveel geboue in gevaar is,” sê Hammond.

“New Orleans Primêr is ’n bestaande ‘plankie-skool’ en ons het strukturele kommer oor die dak. Ons het ook ’n inspeksie deur ’n goedgekeurde asbes-gesag versoek rakende die asbesbevattende materiaal op die dak. ’n ‘Plankie-skool’ is ’n skool wat tydens die apartheidsera met onvanpaste materiaal gebou is.”

Volgens Hammond sal leerders van New Orleans voortgaan om by ander skole geakkommodeer te word totdat alle assesserings afgehandel is en die veiligheid van klaskamers bevestig kan word. Onderwysers is ook aangesê om by ’n ander skool aan te meld.

“Ons is aanbeveel dat alternatiewe plek [vir die leerders by ander skole] gesoek word. Verdere assesserings sal uitgevoer word, wat die pad vorentoe sal bepaal. Die bedoeling is glad nie dat leerders ná hierdie assessering na die skool sou terugkeer nie. Ons moet die veiligheid van leerders en onderwysers kan waarborg en daarom is reëlings getref om leerders van vandag (14 Augustus) in nabygeleë skole te akkommodeer. Dit sluit in Amstelhof Primêr, Orleansvale Primêr en Nieuwedrift Primêr.”

Intussen sal voedselvoorraad van die skoolvoedingsprogram na die skole, wat die leerders akkommodeer, oorgedra word om te verseker dat New Orlenas se leerders steeds van hul voorgeskrewe maaltye voorsien word. Leerdervervoer is ook deur die departement vir die kinders gereël.

You need to be Logged In to leave a comment.