Die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, het Maandag (3 Julie) die Netbalwêreldbeker-trofee ontvang waarna ’n daelange toer met die trofee deur die Wes-Kaap sal plaasvind om dit aan gemeenskappe ten toon te stel.
Die toer eindig op 7 Julie, wanneer die trofee na Kaapstad gebring word en aan Stad Kaapstad oorhandig sal word.
Die Vitality Netbalwêreldbeker 2023 vind in Kaapstad van 28 Julie tot 6 Augustus plaas, en dit sal die eerste keer wees wat die toernooi op die Afrika-vasteland plaasvind.
Altesame 16 spanne sal dit oor dié tien dae uitspook, in die hoop dat hulle as kampioene in netbal se mees gesogte byeenkoms gekroon sal word.
Marais het gesê vrouesport speel ’n belangrike rol in ons gemeenskappe om meisies en vroue te bemagtig en om veilige ruimtes te skep vir vroue om met mekaar te sosialiseer en te verbind.
“Ons hoop om te sien dat hierdie Wêreldbeker baie meer jong meisies inspireer om sport binne hul gemeenskappe op te neem.”
Marais het voorts gesê die Netbalwêreldbeker sal ook ’n groot ekonomiese inspuiting na die Wes-Kaap bring deur die plaaslike ekonomie deur toerisme te stimuleer.
Dit sal ook werk skep deur die skep van groot lokale vir wedstryde wat gekyk kan word, asook deur die vraag na plaaslike dienste deur toerisme te verhoog.
“Dit is nou die tyd om ons vrouespanne te ondersteun terwyl hulle by hierdie internasionale byeenkomste meeding.
“Laat ons almal agter ons eie netbalspan kom terwyl hulle voorberei om die beker in Kaapstad te hou!” het Marais gesê.





