Die Drakenstein- munisipale gebou in die Paarl. Foto: Argief/Rasaad Adams
Die Drakenstein- munisipale gebou in die Paarl. Foto: Argief/Rasaad Adams

Die Concerned Drakenstein Residents-groep (CDR) het ‘n beroep op die Drakenstein-munisipaliteit gedoen om minstens een keer per kwartaal ‘n raadsvergadering – wat gewoonlik by die munisipale hoofkwartier in die Paarl gehou word – na ander munisipale dorpe te skuif.

Die CDR-leier, Bazil Jacobs, sê dit is belangrik dat raadsvergaderings vir alle inwoners tot so ver as Saron toeganglik gemaak word, aangesien die raad nie net verteenwoordigend van die Paarl is nie.

“Ons boodskap is eenvoudig. Die raadsvergaderings [van die huidige raad] is nog net een keer in Wellington gehou – met die verkiesing van Stephen Korabie as burgemeester. Die ander twee kere wat dit nie in die raadsaal was nie, was dit in die Paarl-stadsaal en met die begrotingsrede in die Hugenote-gemeenskapsaal in die Paarl.

“My vraag is, is Saron, Gouda, Hermon, Mbekweni en Simondium dan nie deel van die Drakenstein nie? Hoekom kan ons nie een keer per kwartaal ‘n uitsondering maak en die raad na die gemeenskap toe vat nie?” het Jacobs vandeesweek gesê.

Volgens Jacobs beskik elk van dié dorpe oor die geriewe om ‘n raadsvergadering te kan huisves.

“Wat is die rede hoekom ons dit nie kan doen nie? As dit begro-

tingsverwant is, moet ons bekommerd wees as die raad nie bereid is om geld aan sulke belangrike aangeleenthede te bestee nie. Waarop gee hy dan geld uit?

“Kom, laat ons die raadsvergaderings na die mense toe vat. Die raadslede is nie net verteenwoordigend van die Paarl nie. Elk van hierdie ander munisipale dorpe stuur ‘n raadslid na die raad toe.”

Koos le Roux, die raad se spea- ker, het by navraag gesê dit is in dié stadium onprakties om CDR se voorstel te oorweeg.

“Die verskuiwing van raadsvergaderings is duur, aangesien klanktoerusting (individuele mikrofone en opnametoestelle) asook klankdigte hokkies vir tolkdienste nie by die ander lokale beskikbaar is nie,” sê Le Roux.

Hy het ook bygevoeg dat die raad nog besig is om die GOOD-party se mosie – vir raadsvergaderings om regstreeks op die munisipaliteit se sosialemediaplatforms uitgesaai te word – vir oorweging te ondersoek.

Die GOOD-party het vroeër vanjaar dié mosie ingedien en sy argument was ook dat raadsvergaderings meer toegangklik behoort te wees.

LEES: Calls for Drakenstein Municipality to live stream council meetings

You need to be Logged In to leave a comment.