Paarl Post bied skole in Drakenstein maandeliks die geleentheid om ’n voorbeeldige leerder van die skool te benoem om as Pêreltjie van die maand te pronk.

Wie is jy en hoe oud is jy? Ek is Neache Frans en ek is 17 jaar oud. Ek verjaar 1 November en is in matriek aan New Orleans Sekondêr. Wat doen jy om te ontspan? Ek luister soms na musiek en kyk televisie om te ontspan. Watter soort mens is jy? Ek beskryf myself as ’n vriendelike en waagmoedige mens en hou daarvan om altyd te lag.Waarvan hou jy nie en hoekom? Ek hou nie daarvan dat enige persoon geboelie word nie. Waarna streef jy? Ek streef na geluk en sukses.Van watter soort musiek hou jy? My gunsteling­musiek is meestal popmusiek.Wat gaan jy ná skool studeer? Ek gaan in gesondheid en skoonheid studeer.Watter waardes en norme pas jy in jou lewe toe, en hoekom? Ek is ’n Christen en die Christendom is my eerste prioriteit.Hoekom het jy hierdie skool gekies? Ek het New Orleans Sekondêr gekies omdat soveel oudleerders groot suksesse behaal het as gevolg van hierdie skool.Noem enige prestasie wat jy al behaal het? Ek het akademiese pryse ontvang en ek het my Boland-kleure gekry as junior en senior trompoppie. As ’n trompoppie was ek lid van die Westelike Provinsie-span en het ook my Samca-kleure ontvang, sowel as my Suid-Afrikaanse kleure in trompoppies.

Ek was ook lid van die nasionale span wat meegeding het in die MWF-wêreldkampioen­skap en ek het talle plaaslike trompoppie-kompetisies as leier van die New Orleans-trompoppiespan gewen. Ek is vanjaar gekies as die Kaapse Wynland se junior sportvrou van die jaar en die Westelike Provinsie se junior sportvrou van die jaar.

Ek is ook een van die benoemdes vir die Suid-Afrikaanse pryse wat in Oktober gehou sal word. Ek is ook vanjaar die sportvrou van die jaar by New Orleans Sekondêr.Wat is jou gunstelingvakke op skool en watter vakke hou jy nie so baie van nie? My gunstelingvakke is ekonomie, besigheid en Afrikaans en die vak waarvan ek die minste hou, is wiskunde.

You need to be Logged In to leave a comment.