Die plaaslike E.P. @ IR Malan-stigting bied eersdaags ’n interessante seminaar vir veterane en belanghebbendes in samewerking met die Breedevallei-munisipaliteit asook die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit aan.

Die militêre veterane- en afhanklikes-seminaar word van Vrydag 25 November tot Sondag 27 November op Kerkplein in Worcester aangebied.

Die seminaar sal aangebied word met die fokus op militêre veterane en hul afhanklikes, wat alle vorige NSF- en SF-formasies verteenwoordig, waaronder MK, Apla, Azanla, die SAW, SACC en die SANW. Die DMV en Samwa word versoek om ook veterane uit hul databank te nooi.

Die aanbiedings sal in Engels, Afrikaans en Xhosa aangebied word.

“Ons is werklik opgewonde oor hierdie geleentheid. Ons hoop lede en voormalige lede van heinde en ver sal kom om dit by te woon. Ons fokus is om die lede in te lig. Daar is geen politieke agenda nie en dis ook geensins om sensasie aan te wakker nie.

“Ons hoop dat mense sal opdaag vir hierdie geleentheid en aanmeld by ons met dieselfde entoesiasme soos toe hulle vir diensplig destyds moes aanmeld.”

Malan verduidelik dat hulle hierdie sessies wil gebruik om mense toe te rus met broodnodige inligting.

“Baie lede en hul families is nie bewus van die nodige vergoeding waarop hulle kan aanspraak maak nie, om nie eens te praat van al die voordele waarvoor hulle in aanmerking kom nie,” sê EP Malan van die stigting verantwoordelik vir die seminaar.

Malan verduidelik die wet op veral voordele vir veterane is reeds in 2011 al hersien en sluit in vergoeding danksy trauma en/of sterftes, berading, sosiale verligting, eerbied aan afgestorwe lede, opleiding, onderrig, beurse, sakegeleenthede, subsidies, pensioen en baie meer.

Voorsiening sal moontlik gemaak word om lede toegang te gee tot mediese voordele, behuising en selfs begrafnisdienste.

“Verskeie lede het in die oorgangsjare nie die regte inligting gekry nie en baie oudlede verkeer nog onder ’n wanindruk.

“Baie lede sit ook met meer vrae as antwoorde, en ons sal die platform benut om mense met die regte inligting toe te rus.”

Malan voeg by dat hy en sy mede-organiseerders ’n brief aan president Cyril Ramaphosa gerig het om die verrigtinge by te woon.

“Dit is belangrik dat die president, wat as hoof van die weermag staan, bewus is van die kwessies waarmee oudlede sit en self sien wat hul nood is. Ons wag nog vir terugvoer, maar bly optimisties,” sê Malan verder.

Malan wil ook vra dat besighede en weldoeners by die organisasie betrokke raak om hulle te ondersteun, aangesien hulle groot uitgawes aangaan om ’n sukses van die seminaar te maak. Interessante aktiwiteite soos ’n dans, karaoke, die afvuur van die kanon en talle ander prettighede sal bywoners vermaak.

Onduidelikheid heers ook verder oor ’n afdeling van Brittanje se ambassade en hul huidige en vorige betrokkenheid by die weermag.

“Ons het ’n versoek aan Brittanje gerig om hul nodige kundigheid in te span om bewerings van bedrog en belangrike kwessies rakende die Britse ambassade en ’n mediese instelling te ondersoek.

“Ons glo die regte inligting sal vir ons lede die beste manier wees om vorentoe te kan beweeg en hulle die nodige dienste en voordele te kan gee.”. Veterane of hul naasbestaandes kan Malan by 078 705 4222 vir meer inligting bel.

You need to be Logged In to leave a comment.